Update
HEIDELBERG NUUS - Dié dorp, maar veral Kairos Senior Sekondêr was Maandagoggend 14 Mei in rep en roer toe 'n onbekende man die skool gebel en die hoof meegedeel het dat daar 'n bom iewers by die skool geplant is.
Dit was net voor 10:00 en die skool moes haastig ontruim word. Die skoolhoof, Vivian Prins, vertel dat die man hom ingelig het dat hy die leerders so gou moontlik uit die klaskamers moes kry. Volgens Prins het die man weer na vyf minute gebel en weer gesê dat daar 'n bom op die perseel is.
"Ek het teen daardie tyd reeds die polisie gebel en ook opdrag gegee dat die skool ontruim moet word en almal sover moontlik van die skool af staan." Hy het bygevoeg dat, ter wille van almal se veiligheid hy nie die oproepe ligtelik kon opneem nie.
Die plaaslike polisie het buite die skoolhek waggehou terwyl die personeel en leerders op die veld oorkant die skool gestaan het. Die bomspesialis-eenheid het later uit Mosselbaai gekom om die perseel te fynkam, nadat hulle 'n soortgelyke soektog by George-polisiestasie moes doen.
"Die polisiestasie het ook 'n dreigement van 'n bom daar ontvang. 'n Plofstof-snuffelhond van K9 is in albei gevalle tydens die soektog gebruik," het kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder van die Suid-Kaap aan die koerant gesê.
Die leerders en personeel is huis toe gestuur nog voor die spesiale eenheid opgedaag het. Hulle was Dinsdagoggend terug omdat geen ploftoestel gevind was nie en die dreigement vals was.
Die hoof, Vivian Prins (in pers hemp), asook rdl. Tom Pretorius, beheerliggaam voorsitter (in swart) staan by van die personeellede buite die skool. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
Die polisie ondersoek 'n klag van vals bomdreigement. Enigiemand met inligting wat die polisie kan help met die ondersoek, kan aan Heidelberg-polisie deurgegee word by 028 722 1910 of skakel die tolvrye nommer by 08600 10111. Alle inligting sal as anoniem hanteer word.
"Hierdie is 'n strafbare oortreding en by skuldigbevinding kan 'n persoon direkte tronkstraf opgelê word sonder die keuse van boete," waarsku Pojie.
Die gerugte dat twee ander skole ook bomdreigemente ontvang het, kon nie deur hom bevestig word nie.
Die skool is ontruim en al die leerders het op die oop veld buite die skool vergader.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'