Update
ALBERTINIA NUUS - Albertinia-landdroshof se aanklaer is in die proses om 'n beslissing te maak oor 'n moontlike klag van opsetlike saakbeskadiging teen 'n boer wat 'n hond doodgeskiet het.
Die voorval het op Vrydag, 15 Januarie naby die boer se eiendom langs die Theronsville-woongebied buite die dorp plaasgevind.
Die dag van die voorval het kaptein Susan Botha, stasiebevelvoerder van Albertinia-polisie bevestig dat 'n dossier geopen is en die polisie die aangeleentheid ondersoek.
Adjudant-offisier Ciska Badenhorst, kommunikasiebeampte het Dinsdag, 2 Februarie gesê daar is nog nie uitsluitsel of die boer krimineel aangekla gaan word al dan nie. "Die aanklaer is besig om die dossier te bestudeer alvorens 'n beslissing gemaak sal word."
Shahistah en Algerno Ada, eienaars van Nikiwe, die boerboelteef wat doodgeskiet is, het gesê die hond was baie vredeliewend en het ten tye van die voorval oudergewoonte agter die nabygeleë brandweereenheid se voertuig aangedraf. "Sy het niemand skade aangedoen nie en sou nooit enige vee aangeval het nie."
Nikiwe is in 'n nabygeleë veld dood aangetref na twee skote deur die gemeenskap gehoor is. Dit is onbekend of die hond wel op die boer se grond was toe sy gekwes en die doodskoot buite sy grond toegedien is.
Die boer het aan Algerno erken dat hy honde skiet wat 'n bedreiging vir sy vee en wild inhou.
"Mense moet sorg dat hulle honde by hulle huise bly," het hy aan Algerno gesê.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'