Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Boer van Albertinia staar 'n klag van opsetlike saakbeskadiging in die gesig omdat hy na bewering 'n hond naby Houtkapperstraat, Theronsville op Albertinia doodgeskiet het.
Die voorval het naby sy eiendom op Vrydag, 15 Januarie plaasgevind.
Kaptein Susan Botha, stasiebevelvoerder van Albertinia-polisie het bevestig dat 'n dossier geopen is en die polisie die aangeleentheid ondersoek.
Shahistah en Algerno Ada, eienaars van Nikiwe, die boerboelteef wat doodgeskiet is, sê die hond was baie vredeliewend en het niemand skade aangedoen nie.
"Nikiwe sou ook nooit enige vee aangeval het nie. Sy was bekend in die omgewing omdat sy altyd agter die brandweervoertuie aangehardloop het as hulle met loeiende sirenes vanaf die nabygeleë brandweerstasie gery het. Dit was asof sy na die brandweer-manne omgesien en hulle sterkte toegewens het met hul gevaarlike werk."
Nikiwe is in 'n nabygeleë veld dood aangetref na twee skote deur die gemeenskap gehoor is.
Die boer het aan Algerno erken dat hy honde skiet wat 'n bedreiging vir sy vee en wild inhou. Hy het verskeie wild en vee op sy plaas.
Volgens Algerno het die boer, wie se naam weens die polisieondersoek nie gepubliseer mag word nie, gesê hy het Nikiwe saam met 'n ander hond sien hardloop en geskiet. Hy het blykbaar aan Algerno gesê hy het die hond eers gekwes en daarna doodgeskiet.
"Mense moet sorg dat hulle honde by hulle huise bly," het hy aan Algerno gesê.
Die boer het homself as nie-onmenslik beskryf. "Het jy al gesien hoe lyk dit as 26 van jou skape vrek lê?" het die boer volgens Algerno aan hom gevra.
Met ter perse gaan was pogings om die boer telefonies vir kommentaar te bereik, onsuksesvol.
Vorige artikel: Polisie ondersoek hond se skietdood
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'