STILBAAI NUUS - Seagulls se A- en B-span het Saterdag seker gemaak dat albei spanne volgende Saterdag in die Eerste Liga-finale op Outeniquapark in aksie sal wees.
Albei spanne het met Happy Hearts afgereken en hul plekke in die eindstryd bespreek. Die A-span sal teen Uniondale United te staan kom, terwyl Albertinia Rangers die B-span se teenstander in die finaal sal wees.
Albertinia Rangers se B-span het Knysna in hul halfeindsrtyd met 29 - 12 geklop, terwyl Uniondale United vir Albertinia Rangers se A-span met 43 - 21 uitgeskakel het.
Seagulls se B-span het in 'n uiters spannende wedstryd met 10 - 8 geseëvier nadat Happy Hearts met rustyd 8 - 5 voorgeloop het.
Seagulls se punte het gekom van drieë deur regtervleuel Anthony Daries en haker Zandré Mattheys.
Die spanning het tot die heel laaste oomblik voortgeduur. Nadat die toeter die einde van die wedstryd aangekondig het, het Happy Hearts 'n betreklik maklike strafskop pale toe gemis - waarna die feesvieringe losgebars het. Toeskouers het gejuig en die veld bestorm om die Seagulls-spelers met hul oorwinning geluk te wens.
Die B-span se spannende oorwinning het die tafel gedek vir die hoofwedstryd, waar Seagulls se A-span van die begin af met groot intensiteit gespeel het.
Die Seagulls-pak voorspelers het hul krag gewys en Happy Hearts herhaaldelik meters ver teruggeskrum. Met rustyd was Seagulls gemaklik 18 - 6 voor en hulle het nooit werklik gelyk asof hulle in die moeilikheid was nie.
Seagulls het uiteindelik met 32 - 20 gewen. Die telling vlei volgens die wedstrydverloop eintlik vir Happy Hearts, maar halfeindstryde en eindstryde lewer nie altyd die mooiste rugby op nie. Seagulls het egter gedoen wat nodig was om hul plek in die finaal te verseker.
Die Seagulls-drieë is gedruk deur Donovan Verwey, Nathan Buis, Owen Petersen en Wilhelm Sollmans. Ashwin Botha het 'n strafskop en twee doelskoppe bygedra, terwyl Sollmans ook 'n doelskop bygevoeg het.
Met albei Seagulls-spanne deur na die eindstryde, beloof volgende Saterdag op Outeniquapark 'n groot dag vir die klub en sy ondersteuners.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’