STILBAAI NUUS - Met nog net drie weke voordat die Stilbaai-toerismeburo se gewilde Erfenisroetewedlope oor 5 km en 16 km plaasvind, is daar steeds geleentheid vir deelnemers om in te skryf.
Die 16 km-wedloop begin by die getypoel in Jongensfontein en volg 'n skilderagtige roete strandlangs tot by die toerismeburo by Palinggat in Stilbaai.
Die roete bied deelnemers die geleentheid om van Stilbaai se besonderse natuurskoon te ervaar. Die pad loop onder meer verby die antieke visvywers en deur 'n melkhoutboomwoud. Vir fikse atlete bied die roete 'n uitstekende kombinasie van uitdaging en asemrowende uitsigte.
Een van die uitdagings wat deelnemers in die verlede genoem het, is die dik sand by Skulpiesbaai. Die res van die roete maak volgens talle deelnemers egter meer as daarvoor op.
Die 5 km-wedloop begin by die parkeerterrein van Skulpiesbaai en eindig, soos die langer wedloop, by die toerismeburo by Palinggat. Dié roete bied 'n meer toeganklike uitdaging vir deelnemers wat nie die volle 16 km wil aanpak nie.
Waar daar in vorige jare talle kos- en drinkgoedstalletjies by die eindpunt was, verskuif die fokus vanjaar na Jagersbosch, waar die Erfenisfees aangebied word.
Atlete en hul ondersteuners word aangemoedig om ná die wedlope na Jagersbosch te gaan, waar genoeg parkeerplek beskikbaar is en 'n feesatmosfeer op hulle wag.
Die organiseerders beloof 'n dag propvol heerlike kos, musiek, stalletjies en pret vir die hele gesin.
Belangstellendes kan vandag nog by Entry Ninja inskryf of die Stilbaai-toerismeburo by 028 754 2602 vir meer inligting skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’