Update
HESSEQUA NUUS - Hierdie verklaring is uitgereik deur die kantoor van Hessequa-burgemeester Grant Riddles.
Die Hessequa-munisipaliteit se kontrolekamer is op Sondag 21 Oktober ingelig oor ‘n veldbrand wat in die Vermaaklikheid-area woed. Brandweerpersoneel van beide die Garden Route-distriksmunisipaliteit en Hessequa-munisipaliteit is onmiddellik ontplooi in ‘n poging om die brand te blus en onder beheer te bring.
Addisionele brandbestryders van WoF (Working on Fire), spanne vanaf George-munisipaliteit, Enviro Wild Fire and Goukou Farm Watch asook Southern Cape Fire Protection Association bied verder hulp met die verwoestende brand. Meer as 70 dapper brandbestryders werk onverpoosd onder moeilike omstandighede met stormsterk wind en versengende hitte.
Daar is reeds skade aan agt woonhuise en een stoor asook groot verliese van landbougrond met insluiting van weiding en ander landbou gewasse, natuurlike veld, infrastruktuur soos omheining, water retikulasie toerusting en waterstelsels vir vee. Ongeveer 3 000 hektaar is reeds afgebrand. Gegewe die sterk wind en hoë temperatuur word verwag dat die verliese sal styg. Geen statistiek ten opsigte van moontlike vee- of wildsterftes is nog bekend nie.
Indirekte verliese word verwag ten opsigte van die toerisme potensiaal van die omgewing en die gemeenskap.
‘n Volledige evaluasie moet nog gedoen word om die volle omvang van hierdie brand te bepaal.
Die vure is steeds buite beheer, daarom het die Hessequa-raad tydens ‘n spesiale raadsvergadering op 23 Oktober besluit om die gebied as plaaslike rampgebied te verklaar en om ‘n versoek aan die Garden Route-distriksmunisipaliteit te rig in terme van Art 55 van die Rampbestuur Wet 57 van 2002.
Die raad het ook met skok en leedwese kennis geneem dat een van die WoF-vlieëniers se Huey helikopter in die omgewing van Oshoek neergestort het met noodlottige gevolge. Die raad en gemeenskap betuig hul medelye en simpatie aan die familie en gesin van die oorledene met hierdie tragiese gebeure.
Die raad bedank ook die gemeenskap van Hessequa vir hulp, ondersteuning en gebede.
Lees vorige artikels hier:
- Fatal helicopter crash during firefighting
- Opvolg: Brand op Hessequa
- Help ons brandweermanne
- Hessequa fires update
- Fire updates on Vermaaklikheid fire
- Opvolg oor Hessequa brande
- Opvolg: Brand op Vermaaklikheid
- Brand onstaan op Grootvaderbosch
- Dit brand nie op Heidelberg
- 2 Brande is eintlik 1
- Dit brand ook op Heidelberg
- Brand opvolg in Hessequa
- Huis in vlamme
'Ons bring jou die nuutste Vermaaklikheid, Hessequa nuus'