STILBAAI NUUS - Die saak teen vyf mans wat van die moord op Heila Kilian op 16 April 2018 buite Stilbaai aangekla word, is Maandag 1 Julie vir die laaste keer in die landdroshof hier uitgestel.
Sakhumzi Benya (29), Nkosiyethu John Nocuza (24), Msomi Nikani (24), Monwabisi Maki (22) en Xolisane Myoyi, (28) word aangekla van moord en gewapende roof.
Brenda Thompson, Kilian se suster, het uit Vietnam vir Suid-Kaap Forum geskryf.
Haar weergawe van wat daardie aand gebeur het sal eers met aanvang van die verhoor in die hof getoets word, maar sy was bereid om 'n deel van haar herinnering met die koerant te deel. Sy vertel hoe sy uitgesien het na haar suster se week lange besoek en hoe opgewonde sy was om haar op George-lughawe te ontmoet.
Op die aand van die tweede dag van haar besoek het die twee susters eers rustig binne gesit en gesels, maar later by David, haar man en Shaun Vorster, 'n vriend, rondom die braaivuur aangesluit.
"Dit was 'n pragtige aand en ek onthou hoe ons die sterbelaaide nag bewonder het, terwyl ons hardop gemymer het hoe gelukkig ons was om op so 'n mooi, rustige plek te wees."
"Ons het na Christelike musiek geluister en ek was so gelukkig om my pragtige suster by my te hê. Terwyl Shaun die laaste kos gereed gemaak het, het David op sy kitaar begin tokkel.
'n Halfuur later het die hel losgebars.
"Ek onthou die kil boosheid toe vyf, ses gewapende mans om die hoek kom. Ek het die wapens gesien en dit het deur my kop geflits dat dit 'n aaklige nagmerrie moet wees. Die volgende oomblik het ek besef 'n vuurwapen is op my en my suster gerig. 'n Luide knal het die stilte verbreek en ek was oortuig ons einde het aangebreek. Asof in die nagmerrie vasgevang, het ek gesien hoe my suster vooroor op die tafel val. Ek kon hoor hoe sy haar laaste asem uitblaas..."
Landdros Helnie Prinsloo Oosthuizen het die saak Maandag tot 7 Augustus uitgestel. Dan sal die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) se besluit of die saak in die hooggeregshof voortgesit word, bekend gemaak word. Die vyf het op 18 Maart 'n borgtogaansoek laat vaar. Hulle bly in aanhouding.
Lees vorige artikels:
- Deur genade kry 'n mens krag
- Die swartste dag van my lewe
- Stilbaai 5 weer vlugtig in hof
- Stilbaai 5 laat borgaansoek vaar
- Moordbeskuldigdes weer in hof
- Stilbaai-Plaasmoord: 4 verdagtes vas
- Opvolg: Vrou sterf in plaasaanval
- Plaasaanval: Gerugte van arrestasies onwaar
- Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
- Plaasaanval buite Stilbaai: 1 dood
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'