Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Die 65-jarige Johan Ungerer van 'n woning in Melkboomstraat, Stilbaai is noodlottig in sy nek gewond toe drie onbekende mans toegang tot die woning verkry en hom en sy vrou, wat geslaap het, in hul kamer aangeval het.
Die voorval het in die vroeë oggendure van Dinsdag, 3 November net na middernag gebeur.
"Voorlopige inligting dui daarop dat die drie verdagtes, gewapen met onder andere 'n vuurwapen en twee skerp voorwerpe (mes en skroewedraaier) toegang tot die woning deur 'n venster verkry waarvan hulle die glas verwyder het," lui 'n persverklaring deur kapt Malcolm Pojie, polisiekommunikasiebeampte vir die Suid-Kaap.
Tydens die aanval het hulle Ungerer se getraumatiseerde vrou, Christina (61) se hande agter haar rug vasgebind en in 'n slaapkamer toegesluit. Die verdagtes het geld en ander waardevolle items geëis en het met die oorledene se bakkie, 'n wit Chevrolet LDV op die vlug geslaan. Dit is later op 'n plaas naby die N2 tussen Stilbaai en Riversdal teruggevind.
"Die verdagtes het met 'n onbekende bedrag kontant en waardevolle artikels, waaronder twee selfone, 'n skootrekenaar en juwele weggekom. Hulle staar klagtes van moord, asook huisroof in die gesig," het Pojie gesê.
Hulle is steeds op vrye voet en word as gewapen en gevaarlik beskou.
Enigiemand met inligting wat kan lei tot die arrestasie van die verdagtes, word versoek om die ondersoek-beamptes, adjudant-offisiere Ludwich Schnetler te kontak (028 754 6100/079 894 1593), Tekkie Grebe (082 469 6752) of Crime Stop (08600 10111).
Kyk 'n video hieronder:
Die bakkie waarmee die drie verdagtes gevlug het, is opgespoor.
Vorige artikel: Man vermoor in huisroof
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'