HEIDELBERG NUUS - ’n Middeljarige busbestuurder het vroeër vanmiddag ’n noue ontkoming gehad toe die bus waarin leerders van beide De Waalville Primêr en Kairos Senior Sekondêre Skool vervoer word, deur die Duivenhoksrivier meegesleur is.
Daar was gelukkig geen leerders meer in die bus toe dit op die laagwaterbrug by Doornkraal van die brug afgespoel is nie.
Volgens ’n ouer op ’n nabygeleë plaas was haar kind vroeër ook saam met die ander leerders in die bus.
Die bestuurder was op pad terug dorp toe toe die voorval plaasgevind het.
Sy het ook verwys na die geval 13 jaar gelede toe ’n vyfjarige meisie, Michelle Tieties, ook by dié laagwaterbrug deur die rivier meegesleur is en vermoedelik verdrink het.
Haar liggaam is tot op hede nog nie gevind nie.
Die Polisie is genader, maar volgens sers. Keeno Fredericks, plaaslike mediabeampte, is die voorval nie by hulle aangemeld nie.
Meer inligting sal volg sodra dit beskikbaar is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’