RIVERSDAL NUUS - Geloof, musiek en gemeenskapsamehorigheid het Sondagmiddag 20 September hande gevat toe Riversdal-polisie ’n opelug-gospeldiens in Dahliastraat, Kwanokuthula, aangebied het.
Die diens, met die tema ‘Die ontmoeting’, het om 15:00 begin en sowat 150 mense gelok.
Volgens die organiseerders is die boodskap goed deur die gemeenskap ontvang en het verskeie mense tydens die diens na vore gekom om vir hul persoonlike omstandighede gebed te ontvang.
Sers. Garnet Damans het as diensleier opgetree, terwyl AO Hans Busch die boodskap gelewer het.
Die musikale begeleiding is deur sers. Christiaan Jansen op baskitaar, broeder Willem Esau op hoofkitaar, konst. Dimitri Robertson en konst. Joshua Hendricks op klawerbord en broeder Kelman Manus op tromme behartig.
Verskeie pinksterkerkgroepe en hul leiers het die opelugdiens bygewoon, terwyl ’n lid van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en buurtwag ook hul ondersteuning gewys het.
Die geleentheid is deur die organiseerders as ’n geloofsgedrewe byeenkoms beskryf wat daarop gemik was om die gemeenskap saam te bring en inwoners met ’n boodskap van hoop en bemoediging huis toe te stuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’