RIVERSDAL NUUS - 'n Plant wat vir sommige inwoners na 'n onskuldige struik of selfs 'n mooi tuinplant lyk, kan buite die tuinhek 'n groot probleem word.
'n Groep bekommerde Riversdallers waarsku dat indringerplante toenemend in en om die dorp voorkom en van tuine na oop gebiede, waterlope en landbougrond versprei.
Veral die luisboom (bugweed, solanum mauritianum) wek kommer.
Die plant kan meer as 4 m hoog word en word maklik uitgeken aan sy groot, fluweelagtige grysgroen blare, pers blomme met geel harte en trosse bessies wat van groen na geel verkleur wanneer dit ryp word.
Die luisboom word ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteitswet (NEMBA) as 'n kategorie 1b-indringerspesie geklassifiseer en moet verwyder word.
Hoë boetes kan uitgereik word indien die wet nie nagekom word nie.
Voëls vreet die talle bessies en versprei die saad oor groot afstande.
'n Enkele plant in 'n dorpstuin kan dus uiteindelik tot 'n infestasie langs heinings, waterlope en paaie, asook op landbougrond, lei.
Volgens inligting wat aan Suid-Kaap Forum verskaf is, kan luisbome inheemse plantegroei verdring en digte stande vorm.
Daar bestaan ook kommer oor hul watergebruik en die uitwerking wat groot besmettings op natuurlike ekostelsels en landbou kan hê.
Die plant kan ook 'n gesondheidsrisiko inhou.
Fyn haartjies op die blare en stingels kan mense se vel en lugweë irriteer.
Handskoene, lang moue, oogbeskerming en 'n geskikte masker word daarom aanbeveel wanneer plante verwyder word.
Klein plante behoort wanneer die grond nat is met die hele wortelstelsel uitgetrek te word.
Groter plante moet afgesaag en die stomp dadelik met 'n geskikte, geregistreerde onkruiddoder, onder meer glifosaat of Triclopyr, behandel word om hergroei te voorkom.
Bessies met sade moet afgesny, in swart sakke geplaas en die sakke deeglik toegeknoop word. Inwoners word aangeraai om kundige advies oor die korrekte wegdoeningsmetode in te win.
Die probleem strek verder as net die luisboom.
Verskeie ander uitheemse plante wat in tuine voorkom, kan indringend wees en moet verwyder word.
Dit sluit plante soos lantana en turksvy in.
Tuinvullis versprei probleem
Een van die grootste gevare is die storting van tuinvullis op oop erwe, langs paaie en op rivieroewers.
Afgesnyde plantdele en sade kan daar wortelskiet of verder deur water, wind en diere versprei word.
Die groep doen daarom 'n beroep op inwoners om nie onbekende plante bloot aan te hou omdat hulle aantreklik lyk nie, maar om vas te stel watter spesies in hul tuine groei en of hulle as indringerplante geklassifiseer word.
Die iNaturalist-toepassing kan onder meer gebruik word om plante met behulp van foto's te identifiseer, waarna die identifikasie teen die amptelike lys van indringerspesies nagegaan kan word.
Inligting is ook maklik aanlyn beskikbaar.
'n Handige boek om aan te skaf is Alien Weeds and Invasive Plants deur Lesley Henderson.
Inwoners word aangemoedig om eerder inheemse plante te vestig wat by die Suid-Kaapse omgewing aangepas is en voedsel en habitat aan plaaslike voëls, bye, skoenlappers en ander spesies bied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’