HEIDELBERG NUUS - Vir sommige Heidelbergers het die eenvoudige taak om 'n identiteitskaart te bekom in 'n maande lange - en in enkele gevalle langer as 'n jaar lange - wagtyd ontaard.
Nou kook inwoners se frustrasie oor die diens wat hulle tydens binnelandse sake se maandelikse besoeke aan die dorp ontvang.
Inwoners wat met Suid-Kaap Forum gepraat het, sê personeel van die departement van binnelandse sake daag dikwels eers omstreeks 11:00 by die dienspunt op.
Hulle beweer ook dat slegs 'n beperkte aantal mense tydens 'n besoek gehelp word.
Volgens inwoners word sowat 15 nuwe aansoeke om identiteitskaarte en ongeveer 30 mense wat kaarte wil afhaal, gehelp.
Daarbenewens word 'n beperkte aantal aansoeke vir onder meer geboorteregistrasies en geboorte-, huweliks-, egskeidings- en doodsertifikate hanteer.
Die grootste frustrasie is egter die lang wagtyd vir identiteitskaarte.
Suid-Kaap Forum het verlede Dinsdag drie vroue, onderskeidelik 82, 65 en 46 jaar oud, by die dienspunt aangetref wat sê hulle het reeds op 21 Mei 2025 vir hul nuwe identiteitsdokumente aansoek gedoen, maar wag steeds daarvoor.
Ander inwoners sê hulle ontvang SMS'e dat hul identiteitskaarte gereed is om afgehaal te word, net om by die dienspunt te verneem dat die dokumente nog nie beskikbaar is nie of dat verdere administratiewe prosesse nodig is.
Inwoners het egter benadruk dat die personeel wat Heidelberg besoek, volgens hul ervaring probeer om kliënte sover moontlik te help.
Die probleme blyk volgens hulle eerder verband te hou met die departement se stelsels en administratiewe prosesse.
Suid-Kaap Forum het reeds by verskeie geleenthede probeer om kommentaar van binnelandse sake se areabestuurder in Mosselbaai te bekom, maar teen druktyd geen terugvoering ontvang nie.
Munisipaliteit reageer
Hessequa-munisipaliteit het intussen bevestig dat hy bewus is van inwoners se probleme en dat die kwessie reeds verskeie kere met binnelandse sake bespreek is.
Volgens die munisipaliteit word vertragings onder meer veroorsaak wanneer verdere vingerafdrukverifikasie of persoonlike onderhoude nodig is.
Binnelandse sake het ook aangedui dat stelselonderbrekings en administratiewe prosesse daartoe kan lei dat personeel later na dienspunte vertrek.
Die munisipaliteit sê hy het versoeke gerig vir verbeterde toegang tot binnelandse sake-dienste in al die dorpe in die Hessequa-gebied.
Die provinsiale departement van plaaslike regering het ook eenmalige befondsing beskikbaar gestel om inwoners te help om uitstaande identiteitsdokumente by binnelandse sake in Mosselbaai af te haal en die agterstand te verminder.
Gratis vervoer vir 21 inwoners is hiervoor gereël.
Die munisipaliteit het binnelandse sake versoek om die totale aantal mense wie se identiteitsdokumente gereed is om afgehaal te word, aan hom te verskaf.
Die vervoer is egter 'n eenmalige inisiatief en daar is volgens die munisipaliteit tans geen bevestiging dat dit 'n gereelde diens sal word nie.
"Die munisipaliteit bly daartoe verbind om saam met relevante staatsdepartemente te werk om inwoners se toegang tot noodsaaklike dienste te verbeter en uitdagings wat dienslewering raak, proaktief aan te spreek," lui die munisipaliteit se reaksie.
Diegene wat gebruik wil maak van die gratis vervoer moet met Amber Hunter by 073 055 207 of Nathan Ruiters by 083 392 4728 in verbinding tree om 'n sitplek te bespreek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’