STILBAAI NUUS - 'n 80-jarige vrou is Saterdag 12 September in haar woning in Stilwaters van kontant en persoonlike items beroof.
Volgens ao. Morné D'Emiljo van die Stilbaai-polisie is die identiteit van die verdagte intussen vasgestel. 'n 44-jarige verdagte is Maandag 14 September deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Riversdal in hegtenis geneem.
Die verdagte bly in aanhouding en sal na verwagting binnekort op aanklag van roof in die hof verskyn.
Enigiemand wat moontlik oor verdere inligting beskik wat die ondersoek kan help word versoek om die ondersoekbeampte, ao. Ludwig Schnetler, by 028 713 6122 te kontak. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Die polisie het aangedui dat verdere inligting bekendgemaak sal word namate die ondersoek vorder.
Hoewel die buurtwag 'n belangrike rol in die bevordering van veiligheid in Stilbaai speel kan hulle nie oral wees nie. Die gemeenskap word daarom gemaan om te alle tye waaksaam te wees en verdagte optrede aan die polisie te rapporteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’