STILBAAI NUUS - Drie plaaslike ondernemings het Donderdagaand 17 September tydens die AHi Wes-Kaap se prestige Gala Toekenningsgeleentheid groot eer ingeoes toe hulle as die beste in hul onderskeie kategorieë in die Wes-Kaap aangewys is.
Coffee & Cream is aangewys as Gasvryheidsbesigheid van die Jaar, terwyl Rijké Boetiekstokery & Onthaalsaal die titel van Klein Besigheid van die Jaar verower het.
Oh My Gluten-Free is op sy beurt as die Beginner Besigheid van die Jaar aangewys.
Die drie prestasies is 'n bewys van die harde werk, deursettingsvermoë, uitstekende diens en 'n passie vir ondernemingsontwikkeling wat deur die plaaslike sakeondernemings aan die dag gelê word.
Rachel Wall, voorsitter van die Stilbaai Besigheidsforum, sê die ondernemings se sukses dra nie net by tot die groei van hul eie besighede nie, maar versterk ook Stilbaai se reputasie as 'n dorp waar entrepreneurskap, innovasie en gehalte floreer.
"Ons is ongelooflik trots om sulke talentvolle en toegewyde besighede in ons gemeenskap te hê," sê Wall.
Die Stilbaai Besigheidsforum het sy gelukwense aan die eienaars, bestuurspanne en personeel van die drie ondernemings oorgedra en hulle bedank vir hul bydrae tot die plaaslike sakegemeenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’