HEIDELBERG NUUS - Kunsliefhebbers kan dié week hul stapskoene aantrek en terselfdertyd van plaaslike kunstenaars se kreatiwiteit geniet met Hessequa Harmonie se Kuns-stap wat op Woensdag 23 September begin het en tot Saterdag 26 September duur.
Feesgangers kan ’n Kuns-stapkaart by The Karee Tree en die deelnemende uitstallings kry.
Diegene wat al ses kunsuitstallings besoek, staan ’n kans om ’n oorspronklike skildery deur Zelda Truter te wen.
’n Groep van die Sleeping Beauty Kwilters, onder leiding van Sonette Burger, het Woensdag die Kuns-staproete aangepak.
Hul eerste stop was Louise Kluyts se Starnation Studios, waar hulle die kunswerke en uitstallings besigtig het.
Die Sleeping Beauty Kwilters is egter self ook deel van die kunsaanbod.
Hul werk word by die Doornboom-opstal (Fouriehuis), een van die bestemmings op die Kuns-staproete, uitgestal.
Van daar kan kunsliefhebbers Zelda Truter se werk by die Heidelberg Hotel besigtig, waarna die Heidelberg-biblioteek die volgende stop is. Hier word kinderkuns uitgestal.
By die Congregational Kerk kan besoekers die werk van Dina Grobler besigtig.
Firefly Studio is die laaste bestemming op die roete, waar die werk van drie kunstenaars uitgestal word.
Die Kuns-stap bied feesgangers dus die geleentheid om Heidelberg op ’n ander manier te verken, plaaslike kuns te ondersteun en boonop ’n kans te staan om met ’n oorspronklike kunswerk huis toe te gaan.
Van die kleurvolle kwiltwerk van die Sleeping Beauty Kwilters wat tydens Hessequa Harmonie se Kuns-stap by die Fouriehuis uitgestal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’