HEIDELBERG NUUS - Van Adam Small se woorde en eg Suid-Afrikaanse bobotie en pinotage tot klassieke musiek - Hessequa Harmonie vier Erfenisdag vandag, Donderdag 24 September, met ’n propvol program waarin feesgangers Suid-Afrika se kultuur kan hoor, beleef én proe.
Die dag begin om 09:00 by die Fouriehuis met Scheepers en Skrywers, waar Riana Scheepers en prof. Steward van Wyk gesels met die fokus op Adam Small: 90 jaar.
Om 11:30 kry Erfenisdag ’n eg Suid-Afrikaanse geur by Proeviand met ’n bobotie-en-pinotage-kombinasie.
Bobotie word saam met een van Meerendal se pinotage-wyne bedien, terwyl Melodika die musiek verskaf.
Die ensemble bestaan uit Irene Sutherland, Merinda Uys en Christelle Gildenhuys.
Adam Small staan weer om 15:00 sentraal wanneer Dean Balie Adam Small: die viering van ’n vol lewe by die Congregational Kerkie aanbied.
Balie lees en sing van Small se geliefde werke ter viering van die skrywer, digter en akademikus se nalatenskap.
Om 16:30 verskuif die feesgees na Delish vir Happies & Bierproe, waar vyf klein biere met komplimentêre happies voorgesit word.
Drie klaviere neem om 19:00 die Stadsaal oor wanneer Elna van der Merwe, José Dias en Mario Nel Mozart, Movies en Maestros aanbied.
Feesgangers kan die Erfenisdagvieringe daarna vanaf 20:15 in die Banketsaal met die VRL Kuierkamer afsluit. Kaas, wyn en eetgoed kan vooraf vir dié kuiergeleentheid bespreek word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’