RIVERSDAL NUUS - Die bekende stem van Johan “Oom Pottie” Potgieter (75), voormalige onderwyser van Hoër Landbouskool Oakdale en geliefde busdiensoperateur, is stil.
Potgieter, ’n bekende gesig in Riversdal en die Suid-Kaap, is Dinsdag 25 Augustus in Mediclinic George oorlede nadat hy in Junie met limfoom- en beenmurgkanker gediagnoseer is.
Hy het in 1997 by Oakdale aangesluit nadat hy by vier ander skole onderwys gegee het.
Hy het sosiale wetenskap en landboutegnologie aangebied en was vir verskeie jare superintendent van die junior koshuis.
Hoewel hy bekend was vir sy streng dissipline en kenmerkende bulderende stem, was hy ook ’n omgee-mens met ’n oopdeur-beleid.
Respek, netheid, medemenslikheid, trots en integriteit was vir hom belangrike waardes.
Potgieter was ook ’n bekende figuur tydens Oakdale se tradisionele rugbyweek, waar hy dissipline in die koshuise van besoekende skole gehandhaaf het.
Sy streng, maar dikwels humoristiese manier van dissipline het hom legendariese status besorg.
Ná sy aftrede in 2007 het hy sy eie busmaatskappy bedryf en skoolbusroetes tussen onder meer Riversdal en Bredasdorp, George en Oudtshoorn bedien. Só het hy steeds ’n besondere band met leerders behou.
“Oom Pottie se stem is stil, maar die lewensingesteldhede wat hy op Oakdale gevestig het, sal vir altyd voortleef,” het André Latsky, voormalige skoolhoof, gesê.
Potgieter laat sy vrou, Marleen, dogter Aniska, seun Jaco, skoondogter Rosie en kleindogter Ava agter.
’n Diens om sy lewe te vier, vind Saterdag 29 Augustus om 10:00 by die Fanie du Toit-sentrum by Hoër Landbouskool Oakdale plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’