HEIDELBERG NUUS - Heidelberg is op die vooraand van ’n kulturele feesbelewenis waar musiek, woordkuns, teater, kos, kuns en handwerk vir vyf dae saamvloei.
Die Hessequa Harmoniefees is Saterdag by Proeviand bekendgestel en beloof om vanjaar groter en meer uiteenlopend as ooit te wees.
Die fees, wat van 22 tot 26 September plaasvind, vier vanjaar sy negende bestaansjaar en bring ’n indrukwekkende verskeidenheid kunstenaars, skrywers, musikante en kreatiewe entrepreneurs na Heidelberg.
Die bekendstelling het met kort toesprake deur verskeie rolspelers afgeskop, waarna gaste met ligte klassieke musiek en pizzas in ’n verskeidenheid kleure en geure getrakteer is.
Onder die gaste was die Hessequa-munisipaliteit se onderburgemeester en wyksraadslid, Gerald Boezak, munisipale bestuurder Albert de Klerk en talle kunstenaars.
Die uitvoerende hoof van die fees, Niël Rademan, het tydens die geleentheid gesê die fees se negende bestaansjaar dra besondere betekenis.
“Nege is ’n spirituele getal en simboliseer universele liefde, medemenslikheid, vrygewigheid en wysheid.
En dis presies wat hierdie jaar se Hessequa Harmoniefees beloof om te wees.”
Rademan het daarop gewys dat September ook Erfenismaand is en dat die fees ’n geleentheid bied om die eenheid wat die kunste in Suid-Afrika bring, te vier en te huldig.
Hy het ook die fees se borge tydens die bekendstelling aan die gaste voorgestel en benadruk dat die fees nie sonder hul ondersteuning moontlik sou wees nie.
Die fees se tema van liefde, medemenslikheid, wysheid en eenheid word deur die program weerspieël wat iets vir uiteenlopende belangstellings bied.
Die fees skop Dinsdag 22 September af met onder meer ’n Boere-brekfis by Die Skeerhok Padstal, waar Landbouburger-redakteur Samantha van den Berg met prof. Theo Kleynhans oor moderne boerdery gesels.
Musiekliefhebbers kan uitsien na die Bulgarian Brunch met Miroslav Chakaryan op viool, Susan Mouton op tjello en Elna van der Merwe op klavier.
Die openingskonsert, “Spiritual Songs”, bring bekende name soos Paulina Malefane, Niël Rademan en die RUK-koor saam.
Woensdag bied die fees onder meer “Scheepers en Skrywers”, die NorthSouth Duo se “Van Holland tot Heidelberg”, handwerk- en kleiwerkswinkels, asook die ATKV Galakonsert.
Die dag sluit af met ’n gratis nagmark.
Op Erfenisdag, Donderdag 24 September, word die fokus onder meer op Suid-Afrikaanse letterkunde en kos geplaas met “Adam Small: die viering van ’n vol lewe” en ’n bobotie-en-pinotage-kombinasie.
Besoekers kan ook ’n bierproe, kreatiewe handwerkwerkswinkel en die klassieke konsert “3 Klaviere: Mozart, Movies en Maestros” geniet.
Vrydag se program sluit onder meer “Brahms en Blomme”, ’n demonstrasie oor Suid-Afrika se wol-erfenis, die woordkunsprogram “Oulap se Rooi” en André Schwartz se “Any Dream Will Do - My pad met Webber” in.
Die fees sluit Saterdag 26 September af met ’n gratis Handwerk Markdag, waarna “Scheepers en Skrywers”, die musiekdrama “Vivaldi en die Vondeling” en ’n optrede deur die bekende pianis Rocco de Villiers op die program is.
Volgens die organiseerders is daar steeds kaartjies beskikbaar en word feesgangers ’n groter fees met nuwe gesigte en nuwe ervarings beloof.
Die Hessequa Harmoniefees bied daarmee nie net vermaak nie, maar ook ’n geleentheid om Heidelberg as ’n plek van kultuur, kreatiwiteit en gemeenskap te beleef.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’