Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - 'n Vermeende dwelmhandelaar is met 'n groot hoeveelheid dagga en kontant in sy besit in hegtenis geneem.
Azizi Mohamed Maloweka (27) is omstreeks 11:00 Woensdag 26 Junie deur twee polisiebeamptes op patrollie in Kwanokuthula vasgetrek.
Kapt. Yolandi Januarie en sers. Piet Geswindt het die man met die rugsak in Dahliastraat tussen die begraafplaas en die industriële gebied gesien stap. Toe hy hulle gewaar, het hy weggehardloop. Hy is bo-oor die doringdraadheining en deur die rivier, voor hy in die industriële gebied tussen die geboue deur gehardloop het.
Geswindt het nie op hom laat wag nie en het die man agterna gesit. "Ek het sowat 1,5 km ver agter hom aan gehardloop voor ek hom met 'n duikslag platgetrek het," vertel hy. Hy en Januarie het die man gearresteer en hy is na die aanhoudingselle by die polisiekantoor geneem.
Sowat 2 kg saamgeperste dagga ter waarde van R1 600, wat in agt 'worse' met bruin kleefband toegedraai was, asook R1 140 kontant is by hom gevind. 'n Klomp plastieksakkies, waarin die dagga vir verkope verpak word, asook twee half-ontdooide vissies is in die rugsak gevind. Volgens sers. Hans Busch, sektor 1-bestuurder, word die visreuk gebruik om die polisie se snuffelhonde op 'n dwaalspoor te bring.
Kyk 'n video hieronder:
Die man het aanvanklik gesê hy het weggehardloop omdat sy tydelike verblyfpermit as asielsoeker verval het. By nadere ondersoek het dit geblyk dat die dokument nog geldig is.
Busch het sy tevredenheid uitgespreek met die polisiebeamptes se flink optrede. "Dit is nog 'n dwelmhandelaar wat van ons strate af verwyder is," het hy gesê.
Die verdagte het Donderdag 27 Junie in die Stilbaai-landdroshof op aanklag van dwelmhandel verskyn. Die saak is tot 10 Julie uitgestel.
Sowat 2 kg dagga en kontant is in die vermeende dwelmsmous se besit gevind. Foto’s: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Dwelsmous met duikslag neergetrek
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'