Update
RIVERSDAL NUUS - Honderde roubeklaers het Saterdag 27 April in 'n stampvol St. Andrews Anglikaanse kerk van Matlann-Jo Fielies afskeid geneem.
Die 26-jarige rugbyspeler, algemeen bekend as Matty, is op 14 April oorlede.
Die kaptein van die Riversdal Blues se eerste span is tydens 'n vriendskaplike wedstryd teen Progress-rugbyklub in Februarie vanjaar beseer.
Buite die kerk het kollegas van sy ma, Merle, 'n verpleegster by Droom-tehuis, 'n erewag gevorm, terwyl lede van die Blues-rugbyklub binne die kerk hul ontslape rugbymaat ingewag het. Die diens is ingelui met die orrelklanke van Breathe on me, breath of God, waarna Gerrit du Plessis Senior Sekondêr se koor die oudleerder met die lied Emmanuel gehuldig het. Die St. Andrews kerkkoor het The Prayer van David Forster gesing en Dirk Fielies, sy ma se neef, het 'n lied op die saksofoon gespeel, waarna die Riversdal Royal Crusaders 'n gesang gespeel het. Sy enigste suster, Jennevé, het 'n gedig voorgedra. Eerw. Noel Weber het 'n troosboodskap uit Ps. 103:21-23 gebring met die klem op 'n lewe van diens en dankbaarheid.
Die Blues se afrigter, Ryno Jacobs, het Matlann-Jo se geraamde rugbytrui aan sy ma oorhandig. Freddie Vaaltyn, direksielid van SWD-rugby, het namens die rugbygemeenskap hulde aan die veelsydige speler gebring.
Matlann-Jo se rugbyloopbaan het in die voetspore van sy oupa Gert en oom Dave Fielies, wat op hul dag ook vir die Blues uitgedraf het, gevolg. Hy was nie net 'n kranige rugbyspeler nie, maar ook 'n gekwalifiseerde menseredder. Hy het vir Working on Fire gewerk en in daardie tyd is die Hessequa-span as die beste in die Wes-Kaap bekroon. Voor sy dood het hy by die SKK- tak op die dorp gewerk.
Matlann-Jo is in die vroeë oggendure van 13 April in Riversdal-hospitaal opgeneem. Hy is dadelik na George-hospitaal oorgeplaas, waar hy breindood verklaar is. Sy liggaam is aan die lewe gehou sodat sy organe geskenk kon word. Die lewensondersteunende toerusting is op 14 April afgeskakel. Die jongman, wat geliefd was by almal met wie hy in aanraking gekom het, is privaat veras. Hy word oorleef deur sy ma, suster en drie kinders.
Matlann-Jo Fielies se geraamde rugbytrui is deur Riversdal Blues-rugbyklub aan sy ma, Merle, geskenk.
Honderde mense het die geliefde rugbyspeler, algemeen bekend as Matty, se begrafnisdiens bygewoon.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'