RIVERSDAL NUUS - Matlann Jo Fielies (26), rugbyspeler en kaptein van Riversdal Blues-rugbyklub se eerste span, het Saterdag 13 April gesterf na hy in 'n wedstryd teen Progress-rugbyklub beseer is.
Die kranige en veelsydige rugbyspeler is in Riversdal-hospitaal opgeneem, maar later na George-hospitaal oorgeplaas waar hy breindood verklaar is.
Die lewensondersteunende toerusting is Sondag afgeskakel. Sy organe is vir orgaanoorplanting geskenk en sodoende het hy, na wat verneem word, vier lewens gered.
Hy was die seun van Merle Fielies, verpleegster verbonde aan die Ou Meule-tehuis vir bejaardes, en Allan Fielies, oudonderwyser wat vroeër by Gerrit du Plessis Sekondêr onderrig gegee het en wat op 24 Mei 2016 oorlede is.
Spelers, ondersteuners en die publiek het op sosiale media hulde gebring aan die puik speler wat in 2018 tydens die klub se jaarlikse prysuitdeling as rugbyspeler van die jaar aangewys is.
Luidens 'n mediaverklaring wat deur Reon Sauls, voorsitter van die klub, uitgereik is, is sy dood 'n reuseverlies vir die klub en hy sal gemis word. "Die klub betuig hiermee hul simpatie met sy moeder, suster en sy drie kinders," lui die verklaring.
Mattlann Jo was werksaam by die voerstoorafdeling van SSK op Riversdal. Die groep beskryf hom as 'n eerlike, lojale, harde werker wat nie geskroom het om leiding te neem nie. Hy is in 2017 as algemene werker aangestel en op 1 Oktober 2018 tot drywer bevorder. "Hy laat 'n leemte en sal beslis gemis word," sê SSK in 'n mediaverklaring.
Denwille Johnson, voormalige afrigter van die rugbyklub, sê sy nederigheid en hardwerkendheid was vir menige speler 'n voorbeeld.
Sy afsterwe is 'n dubbele slag vir die Fielies-gesin, aangesien sy oom, Dave Fielies, Dinsdag 9 April oorlede is. Dave was as jong man in die 80's ook 'n kranige rugbyspeler vir Riversdal Blues en het selfs SWD-kleure verwerf. Hy was werksaam by die destydse Riversdal Handelshuis se houtwerkafdeling waar dakkappe vervaardig is. Dave het in 1994 'n trofee by sy werk verower omdat hy as afdelingshoof die beste presteer het.
• Die begrafnisreëlings was teen druktyd nie bekend nie.
Lees 'n vorige artikel: Rugbyspeler sterf na besering
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'