Update
RIVERSDAL NUUS - "Ek kon die vrees in sy kraalogies agter die klapmus sien toe ek die Here se naam aanroep en lofliedere sing."
So vertel Brenda Thomas, by wie haar 63-jarige suster Heila Kilian gekuier het toe sy op 16 April verlede jaar op 'n plaas net buite Stilbaai gesterf het terwyl hulle saam met Brenda se man David en vriend Shaun Vorster gemoedelik onder 'n helder sterrehemel en met die note van gewyde musiek in die agtergrond om 'n braaivuur gekuier het.
"Wat begin het as 'n vreugdevolle reünie met my geliefde suster, het binne oomblikke verander in 'n onbeskryflike tragedie waarin die mooiste, dierbaarste vrou, suster, ma, ouma en vriendin gesterf het," het sy met Suid-Kaap Forum gedeel.
"'n Groep van vyf of ses gewapende, gemaskerde mans het uit die niet om die hoek verskyn en op ons afgepyl," onthou sy. 'n Skoot is afgevuur en Heila is noodlottig gewond. Brenda het naby haar suster se lyk op die gras bly lê. David en Shaun is gedwing om die kluis oop te sluit, vasgebind en gemartel.
Een van die gemaskerde mans het oor Brenda gebuig en 'n meslem teen haar nek gedruk. "In die aangesig van die dood het ek God se boodskap gehoor en vir die man gesê ek vergewe hom en dat God lief is vir hom." Toe begin sy Jesus min my, salig lot sing.
Uiteindelik het Brenda twee keer daarin geslaag om uit hul kloue te ontsnap en by die bure te gaan hulp gesoek.
Watter een van die vyf beskuldigdes - Sakhumzi Benya, Nkosihethu Nocuza, Msomi Nikani, Monwabisi Maki en Xolisani Myoyi - die sneller getrek het wat die Heila gedood het, sal later vanjaar in die Mosselbaai rondgaande hof ontrafel word. Na verskeie vlugtige verskynings in die landdroshof hier, is die saak Woensdag 7 Augustus na die hooggeregshof op Swellendam verwys waar 'n voorverhoor op 20 September sal plaasvind. Die beskuldigdes het elk 'n skriftelike akte van beskuldiging, waarin die sewe aanklagte wat met die noodlotsnag verband hou, uiteengesit word. Dit sluit 'n moordklag, drie van roof met verswarende omstandighede, twee van oortreding van die wet op die besit van 'n vuurwapen en een van kwaadwillige beskadiging van eiendom in.
Na die voorverhoor sal die aanvangsdatum van die verhoor in Mosselbaai bekend gemaak word. Die vyf bly in aanhouding.
Sers. Jerome Kleinbooi, ondersoekbeampte in die Heila Kilian-moordsaak. Foto: Tisha Steyn
Lees vorige artikels:
- Stilbaai 5 na Swellendam vir voorverhoor verwys
- Suster herroep nag van angs
- Deur genade kry 'n mens krag
- Die swartste dag van my lewe
- Stilbaai 5 weer vlugtig in hof
- Stilbaai 5 laat borgaansoek vaar
- Moordbeskuldigdes weer in hof
- Stilbaai-Plaasmoord: 4 verdagtes vas
- Opvolg: Vrou sterf in plaasaanval
- Plaasaanval: Gerugte van arrestasies onwaar
- Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
- Plaasaanval buite Stilbaai: 1 dood
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'