Update
RIVERSDAL NUUS - John Petersen, beter bekend as Tokka, asook Logan Sefoor bly steeds agter tralies nadat die landdros teen hul vrylating besluit het.
Petersen, 'n 28's bendelid, staan tereg op aanklagte wat strek vanaf handeldryf in dwelms, poging tot handeldryf in dwelms, regsverydeling, opsetlike saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
’n Gespesialiseerde taakspan het op 8 Maart op sy woning toegeslaan en hom gearresteer.
Tydens 'n borgtogaansoek wat ongeveer twee maande geduur het, het adv. Herman Steyn vir die staat in sy slotbetoog genoem van die greep wat Petersen op die gemeenskap het. Hy het gesê dat sy vrylating nie in belang van regspleging is nie.
Die staat se sleutelgetuie, sers. JM Spangenberg het genoem dat veral die plaaslike gemeenskap die afgelope 12 jaar onder die bose invloed en beheer van Petersen gebuk gegaan het.
Die gemeenskap ondersteun nie sy vrylating nie en Petersen se weergawe om 'n geldige besigheid te bedryf en vir sy kinders te sorg, is onwaar omdat hy nie oor 'n geregistreerde besigheid beskik én nie vir sy kinders sorg nie.
Hy het tydens sy ondersoek vasgestel dat meeste van Petersen se kinders 'n maatskaplike toelaag ontvang.
Tydens die verdediging se kruisverhoor, het adv. Van Zyl beklemtoon dat, sou hy borgtog kry, daar geen risiko is dat Petersen nie sy verhoor sal bywoon nie.
Spangenberg het dit ten sterkste teengestaan, omdat hy in besit was van 'n verkeersoor-treding wat Petersen in 2017 begaan het, nie betaal het nie en 'n lasbrief vir sy inhegtenisneming vir minagting van die hof uitgereik is. In die lig hiervan is dit voldoende bewys dat hy wel 'n vlugrisiko is.
Volgens Van Zyl is 'n verkeersboete 'n ligte oortreding, wat later deur die hof verwerp is.
Hy het ook aangevoer dat die gemeenskap nie 'n petisie opgestel of teen sy vrylating betoog nie, wat 'n aanduiding is dat hulle nie teen sy vrylating gekant is nie. Spangenberg is gevra om hierop te reageer, waarop hy gesê het dat mense juis nie die saak wil bywoon nie, omdat hulle nie geteiken wil word nie.
'n Hofdatum vir die verhoor sal in Oktober vasgestel word. Danylo Gelderblom en Jonical Barnard is borgtog toegestaan.
Lees vorige artikels hier:
- Tokka bly agter tralies
- Uit die hof
- Tokka se saak weer uitgestel
- Tokka doen aansoek om borgtog
- Tokka weer in hof
- 'Tokka' se tikdae getel
- Lede van 28's-bende loop hul rieme styf
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'