Update
RIVERSDAL NUUS - Lede van die 28's-bende loop hul rieme styf nadat die era van 'n invloedkryke middelfiguur van 'n dwelmnetwerk tot 'n einde gekom het.
'n Gespesialiseerde taakspan het Donderdag 8 Maart op die woning van John Pietersen, beter bekend as Tokka (28's bendelid) toegeslaan en hom gearresteer.
Hy is tans op R2 000 borg uit vir 'n Belhar-saak waar hy gearresteer was vir handeldryf in tik.
Hy staan tereg op klagtes wat strek vanaf handeldryf in dwelms, poging tot handeldryf in dwelms, regsverydeling, opsetlike saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Hierdie ondersoek was geloods deur sers. JM Spangenberg en konst. Christiaan Zwiegelaar, wat vir dié deeglike en tydsame ondersoek verantwoordelik was.
Die ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van verskeie bende geaffilieerdes betrokke by dié netwerk. Dit was bedryf vanaf Pietersen se huis.
André Tieman en Johnical Barnard was reeds op 22 Februarie gearresteer en is in aanhouding vir die verkoop van tik en hul rol wat hulle in hierdie komplekse skema vertolk het.
Spangenberg het gesê: "'n Mismoedige gemeenskap het gepraat en die polisie het opgetree."
Pietersen, Ricardo Sefoor en Danyl-Jo Gelderblom is op 8 Maart gearresteer vir hul rol tydens die verkoop van dwelms.
Op verdere navrae het Spangenberg genoem dat hierdie beskuldigdes in gevolge op die 'prevention of organised crime act 121 of 1998' aangekla sal word. Al drie het Vrydag 9 Maart in die hof op Stilbaai verskyn. Die saak is tot 14 Maart uitgstel, waar hulle aansoek om formele borg sal doen.
Adv. Herman Steyn verskyn vir die staat en adv. Stemmet tree vir die verdediging op.
Gerugte het die ronde gedoen dat Pietersen 'n luukse woning en motors besit. Spangenberg het die volgende daaroor gesê: "Indien dit in hierdie verhoor sou blyk dat enige beskuldigde hom verryk het deur misdaad te pleeg, hy die moontlikheid in die gesig staar om dit in effek te verloor deur verbeurdverklaring aan die staat.
"Misdaad betaal nie en ons waarsku misdadigers om dit te staak."
John Pietersen (Tokka) word deur sers. JM Spangenberg in hegtenis geneem. Hy word deur 'n lid van die uniformtak bygestaan.
Wat het aanleiding gegee tot hierdie ondersoek?
Tydens 'n Imbizo verlede jaar het die gemeenskapleiers van Riversdal hul sterk uitgespreek oor die feit dat die sogenaamde 'dwelmgebruikers' gevang word, maar nooit die handelaars self nie.
"Die boodskap van die gemeenskap was duidelik. Hulle is mismoedig en indien die polisie nie optree nie, hulle self sal optree. Hierdie pleidooi het op die regte ore geval," het Spangenberg gesê.
Na die Imbizo het lt. kol. Delicia Isaacs van Riversdal-polisie die kwessie met die groepshoof, brig. Jantjies bespreek. 'n Hand geselekteerde taakspan is opgeroep om hierdie ondersoek te behartig.
Wat behels so 'n ondersoek?
Volgens Spangenberg is 'n ondersoek van hierdie natuur nie die konvensionele ondersoek van misdaad nie. Die aard van die misdryf is nie een waar die klaer na die polisiekantoor sal gaan en kla oor die gehalte van dwelms wat hy/sy aangekoop het nie.
Die partye is gewillige deelnemers tot misdryf van 'handel in dwelms' en juis daarom moet die polisie van gesofistikeerde metodes gebruik maak wat tydsaam, duur en kompleks van aard is.
In meeste gevalle word inligting deur die gemeenskap verskaf soos met die 28's bende se geval. Spangenberg bedank die gemeenskap vir hul geduld en inligting ontvang.
Inligting kan aan 082 667 2214 gestuur word, wat vertroulik hanteer sal word.
Het ons kinders nog ’n toekoms?
Kinders word van kleins af aan dwelms blootgestel, hetsy deur self daarmee gekonfronteer te word deur geharde dwelmhandelaars, óf tuis waar hul ouers dit gebruik of daarmee handel dryf. Gelukkig is daar nog polisielede soos in die berig genoem wat hierdie misdadigers aan die kaak stel en tot verantwoording roep.
Lees 'n vorige artikel: Lede van 28's-bende loop hul rieme styf
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'