MOSSELBAAI NUUS - Die verhoor van vyf mans wat van die moord op Heila Kilian aangekla word en wat Maandag 17 Februarie in die rondgaande hooggeregshof hier sou begin, is tot Donderdag uitgestel.
Die 63-jarige Kilian is op 16 April 2018 noodlottig gewond toe 'n skoot tydens 'n gewapende rooftog op 'n plaas buite Stilbaai afgevuur is.
Haar suster Brenda Thomas, Thomas se man David, asook Shaun Vorster, wat op die plaas gewoon en die aand saam met die ander om die braaivuur gekuier het, het die aanval oorleef.
Regter Lister G Nuku het die saak tot 20 Februarie uitgestel omdat een van die vyf beskuldigdes se regshulpverteenwoordiger weens ander onvoorsiene verpligtinge nie die verrigtinge kon bywoon nie. Advokate Allan Lange, Badie Badenhorst en Keith Roberts van Kaapstad was ook nie een teenwoordig nie, terwyl advokate Stoffel Prinsloo SC van Oudtshoorn en Fuzile Shumi van George wel daar was. Adv. Christénus van der Vijver van die Direkteur van Openbare vervolging kla vir die staat aan.
Die beskuldigdes Sakhumzi Benya (29), Nkosiyethu John Nocuza (24), Msomi Nikani (24), Monwabisi Maki (22) en Xolisane Myoyi (28), almal van die Oos-Kaap, bly in aanhouding.
Hein Kilian, die oorledene se man en hul seun Zane het die verrigtinge bygewoon.
"As Heila geleef het, sou sy op 5 Februarie 65 jaar oud geword het," het die voormalige polisie-kolonel en bevelvoerder van die destydse Onluste-eenheid gesê. "Dis byna twee jaar sedert sy so onnodig gesterf het. Dis asof niemand omgee nie, want die proses kom net nie aan die gang nie. Ek wil hê hulle moet vir altyd toegesluit word. Nie dat dit my lewe sal verander nie - hulle het my lewe ook vernietig toe hulle Heila doodgemaak het."
Zane, 'n skuldinvorderaar, het sy pa by die hof ondersteun. "'n Mens voel so magteloos. Ons was nie daar om haar te beskerm nie en nou moet ons maar net sit en wag vir die gereg om sy loop te neem." Hy het twee broers, Eugene en Anton en 'n suster Marike.
Zane het Dinsdag na Springs teruggekeer waar die gesin woon en Heila begrawe is. Kilian sr. bly tot aan die einde van die verhoor in Mosselbaai.
Die saak duur tot 20 Maart voort.
Vorige artikels:
- Farm murder: Three to appear in High Court
- Stilbaai 5 na Swellendam vir voorverhoor verwys
- Suster herroep nag van angs
- Deur genade kry 'n mens krag
- Die swartste dag van my lewe
- Stilbaai 5 weer vlugtig in hof
- Stilbaai 5 laat borgaansoek vaar
- Moordbeskuldigdes weer in hof
- Stilbaai-Plaasmoord: 4 verdagtes vas
- Opvolg: Vrou sterf in plaasaanval
- Plaasaanval: Gerugte van arrestasies onwaar
- Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
- Plaasaanval buite Stilbaai: 1 dood
IN SHORT
The hearing of five men accused of the murder of Heila Kilian near Stilbaai on 16 April 2018, which was supposed to commence in the circuit high court in Mossel Bay on Monday 17 February was postponed until Thursday. The legal representative of one of them could not attend because of other unforseen duties.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'