Gallery
HEIDELBERG NUUS - "So iets het ek nog nooit in my loopbaan gesien nie!"
Dit was die woorde van maj.genl. André Lincoln, waarnemende adjunkkommissaris van die Wes-Kaapse polisie, toe sowat 20 polisielede tydens 'n vergadering in die Duivenhoks-gemeenskapsaal op 27 Februarie deur die gemeenskap gedwing is om die saal te verlaat.
Die vergadering van nagenoeg 250 gemeenskapslede het gevolg op die vorige een van 7 Februarie waartydens brig. Phumzile Cetyana van die Eden-kluster onderneem het om terugvoer oor klagtes wat in 'n griefskrif vervat is, te gee. Dit het nie gebeur nie en die taakspan onder leiding van Roseline Jansen, koördineerder en James Gelderbloem, wyksraadslid is Kaapstad toe om die saak onder Lincoln se aandag te bring.
Foto's: Polisie vergader met Heidelberg gemeenskap
Buiten Lincoln en Cetyana is die jongste vergadering ook deur lt.kol. Sipho Dyani, Heidelberg-polisie se bevelvoerder en lt.kol. Ans Terblanche van Da Gamaskop-speurafdeling bygewoon.
Die polisie se terugvoer op die griefskrif het groot ontevredenheid ontlok omdat dit as ongegrond, vaag of misleidend afgemaak en weerlê is met ander verklarings. 'n Inwoner, Brian Rossouw het selfs beweer dat 'n polisielid hom probeer omkoop het om 'n saak van aanranding terug te trek.
"Enigiemand kan sien dat die terugvoer nie deur 'n onafhanklike ondersoekspan gedoen is nie," het Gelderbloem beklemtoon.
Lincoln, wat aandagtig geluister het, het uiteindelik die polisie se terugvoer verwerp en onderneem om 'n nuwe ondersoek te gelas.
Hy het die gemeenskap verseker dat hy hul kwelpunte ernstig bejeën en dit dringend sal hanteer. "Ek verseker julle dat 'n onafhanklike span die griewe sal ondersoek. Ek sal teen Dinsdag 3 Maart die name van die ondersoekspan aan die taakspan verskaf."
Hy het hulle versoek om met die ondersoekspan wat hulle gaan nader om verklarings af te lê, saam te werk.
Intussen het die ombudsman van die polisie se Openbare Polisie Ondersoek-direktoraat (Opod) die dorp Woensdag 27 Februarie besoek om met die taakspan onder leiding van Jansen te vergader oor verwante sake wat onder hul aandag gebring is.
Van links: Lt.kol. Sipho Dyani, maj.gen. André Lincoln, brig. Phumzile Cetyana, lt.kol. Ans Terblanche en sers. Imorgene Hendricks. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Verwante artikels:
- Heidelbergers vergader met die polisie
- Inwoners eis optrede teen polisielede
- Optog oor beweerde korrupsie by Heidelberg polisie
- Inwoners braak nog gal oor polisielede
- Polisie in die spervuur
- Student se lewe kortgeknip
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'