HEIDELBERG NUUS - Nagenoeg 300 inwoners het tydens 'n gemeenskapsvergadering Dinsdagaand 14 Januarie hul ontevredenheid met sekere polisielede uitgespreek.
Die vergadering met stasiebevelvoerder lt.kol. Sipho Dyani en sy bestuurspan het op versoek van ontstoke inwoners in die Duivenhoks-gemeenskapsentrum plaasgevind.
Raadslede James Gelderbloem en Lisby Pieterse, asook Magrieta Pieterse, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, was onder hulle.
Die ongelukkigheid het uit die optrede van 'n polisielid op Maandag 6 Januarie gespruit. Hy het na bewering poedelnakend by 'n egpaar se huis ingehardloop, 'n kollega wat ook sy vriendin is met 'n panga en graaf gejaag, nog 'n persoon aangerand en hom die k-woord toegesnou en op verskeie ander inwoners geskel.
Volgens inwoners het die lid glo ook 'n paar weke tevore 'n persoon by 'n kuierplek aangerand en 'n polisievoertuig se ruit beskadig.
Wilmark Amsterdam was ontsteld omdat die lid nie in hegtenis geneem is toe omstanders hom aan die polisie uitgewys het nie. John Kona het gesê hy het sy arm beseer toe hy aangerand is.
Van die klagtes het ingesluit dat die lid se kollega/vriendin die aand van sy oproerigheid glo haar bakkie onder die invloed van alkohol bestuur het. Ook by dié geleentheid het hy op mense wat haar aan die polisie uitgewys het geskel.
Magrieta Pieterse het haar misnoeë oor die optrede van sekere polisielede - veral teenoor haar wanneer van haar familielede by misdaad betrokke is - uitgespreek. Sy het benadruk dat daar nie 'n goeie vertrouensverhouding tussen die gemeenskap en die polisie is nie.
Cynthia Roberts, voormalige onderwyser en raadslid het gekla dat polisielede by geleentheid vreeslik op haar seun geskel het toe hulle hom wou arresteer. Sy wou weet of dit nodig is om so te kere te gaan wanneer iemand in hegtenis geneem word.
Cathy Alberts van Slangrivier het 'n emosionele pleidooi aan Dyani gerig om streng teenoor lede wat die wet oortree en wat dink dat hulle bo die wet verhewe is, op te tree. Haar dogter Candice is in 2017 deur 'n voormalige konstabel en hofordonnans vermoor. Hy was ten tyde van die moord haar kêrel en is die pa van haar babaseun.
Ten spyte van die talle klagtes teenoor lede het verskeie inwoners te kenne gegee dat hulle graag met die polisie wil saamwerk om misdaad te bekamp. Volgens hulle sal die polisie egter hard moet werk om die gemeenskap se vertroue terug te wen.
Dyani het inwoners die versekering gegee dat hy kennis neem van hul klagtes en dat hy dit sal laat ondersoek. Hy het onderneem om binne 'n week terugvoer te gee.
Volgens kapt. Chris Spies, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, word sake van crimen injuria en aanranding gewoon rondom die beweerde insident ondersoek. 'n Interne ondersoek is ook gelas.
John Kona is na bewering deur die polisielid aangerand en die k-woord toegesnou. Foto’s: Clive Pretorius, korrespondent
Ontevrede inwoners het hul griewe oor die plaaslike polisie gelug.
Lees verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'