HEIDELBERG NUUS - Die Onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het met 'n ondersoek na die dood van Nicolin Davids begin.
Sowat 60 inwoners van Heidelberg en Slangrivier het die verrigtinge op Vrydag 14 November in die Duivenhoks-gemeenskapsaal bygewoon.
'n Opod-afvaardiging, gelei deur Mario September, Wes-Kaap Opod-direkteur, en sy adjunk Owen Anthony ondersoek bewerings van wangedrag deur lede van die plaaslike polisiekantoor.
Die ondersoek volg op 'n brief wat Colin Arendse, 'n selfverklaarde gemeenskapsaktivis aan Bheki Cele, minister van polisie, gerig het waarin verskeie ernstige aantygings teen polisielede gemaak word.
Die 26-jarige Davids, 'n eerstejaar verpleegstudent se liggaam is omstreeks 01:30 op Sondag 27 Oktober op 'n oop veld langs die dorp se rugbyveld gevind.
Hy is vermoedelik dood toe 'n voertuig oor sy kop gery het. Daar word beweer dat dit 'n polisievoertuig was.
Opod het 'n verklaring van Davids se ouma, Nicoleen Davids geneem. Hulle het ook verklarings van die familielede van Gerald Esau (45) en Loricha Jacobs (28) geneem.
Esau het glo in polisieaanhouding gesterf, terwyl Jacobs in 'n ongeluk dood is terwyl sy 'n passasier in 'n voertuig was wat na bewering deur 'n polisielid bestuur is.
Verskeie ander gemeenskapslede het ook aantygings teen polisielede gemaak. Volgens September sal al die klagtes na die betrokke departemente verwys word. Hy het onderneem om binnekort terugvoer te gee en dat die verskeie departemente en instansies, soos die Menseregtekommissie en die polisie-ombudsman dan aanwesig sal wees.
Suid-Kaap Forum het per e-pos en telefoniese navrae hieroor gerig, maar teen druktyd nog geen kommentaar van Cele se kantoor, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder of die bevelvoerder van Heidelberg-polisie ontvang nie.
Nicoleen Davids, Nicolin Davids se ouma, is aan die woord. Voor, met die lêers in hul hande is Lorichia Jacobs se ma en stiefpa Cecile en Mario Michaels.Foto: Clive Pretorius, korrespondent.
Nooddienspersoneel verwyder Davids se liggaam.
Nicolin Davids.
Lees 'n vorige berig: Student se lewe kortgeknip
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'