Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Honderde inwoners het Vrydag 7 Februarie tydens 'n optog hul ontevredenheid met plaaslike polisielede uitgespreek en geëis dat hulle ontslaan word.
Dié optog volg na vergaderings waartydens hulle hul griewe onder bevelvoerder lt.kol. Sipho Dyani se aandag gebring het.
Hy het by daardie geleentheid onderneem om binne 'n week terugvoer te gee, wat nie gebeur het nie. Hy het ook nie 'n opvolgvergadering bygewoon nie.
Die optog is gelei deur kerk- en politieke leiers van die dorp en Slangrivier, wat Roseline Jansen, koördineerder van die protesaksie en ANC-lede James Gelderbloem en Lisby Pieterse ingesluit het.
Jansen het die griefskrif aan die polisie-afvaardiging bestaande uit brig. Phumzile Cetyana, waarnemende bevelvoerder van die Da Gamakop-streek, lt. kol. Ndlelantle Madikizela, bevelvoerder: Openbare Orde Polisie-eenheid (Pops), Dyani en Zelda Moolman, voorsitter van Da Gamaskop-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) voorgelees.
Kyk 'n video hieronder:
Die griefskrif verwys na jare lange beweerde misdadige gedrag van onder andere 'n voormalige bevelvoerder wat in 2012 aan ernstige misdade skuldig bevind en gevonnis is, maar steeds in diens van die polisie is, viktimisering van 'n lid wat teen die bevelvoerder getuig het, 'n konstabel wat onlangs moles gemaak het deur onder meer kaal deur die strate te nael, die polisie se versuim om die dood van Gerald Esau en Nicolin Davids te ondersoek, die misbruik van staatsvoertuie en aanranding van gemeenskapslede.
Gelderbloem het benadruk dat die inwoners met dié optog 'n duidelike boodskap aan die polisie-owerhede wil gee dat hulle sat is vir die korrupsie by die plaaslike polisie-kantoor en dat hulle wil hê hul griewe moet tot op die hoogste vlak van die polisie oorgedra word. "As julle nie aan ons eise gehoor gee nie, sal ons elke Vrydag hierdie aksie herhaal tot julle aan ons eise voldoen," het hy gesê.
Die inwoners eis dat die polisielid waarna verwys word, en sommer ook die huidige bevelvoerder onverwyld uit hul poste verwyder moet word en dat daar teen die lid se meelopers opgetree moet word, alle sake wat teen polisielede aanhangig gemaak is moet heropen word sodat hulle vervolg kan word; die GPF moet ontbind word; die polisiekantoor moet vir wanadministrasie ondersoek word; alle lede moet regverdig behandel word en familielede van Esau en Davids moet terugvoering ontvang.
Cetyana het onderneem om die klagtes indringend te laat ondersoek en dat hy binne 'n week terugvoer sal gee.
INLAS: Brig. Phumzile Cetyana onderteken die griefskrif. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Lees 'n vorige artikel: Optog oor beweerde korrupsie by Heidelberg polisie
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'