Update Video
GOURITSMOND NUUS & VIDEO - Die gemeenskap van Gouritsmond raak al meer bekommerd oor die voorgenome ontwikkeling van 'n perlemoenfabriek.
"Ons is nie gekant teen ontwikkeling nie, maar oor die moontlike negatiewe invloed op die ongerepte natuur en veral natuurlike vleilande, asook die infrastruktuur van die dorp," sê Org Nieuwoudt, voorsitter van die Gouritsmond Sambreelligaam wat die belange van inwoners én die omgewing probeer beskerm.
"Natuurlike bates en die karakter van klein dorpies moenie geskaad word tot voordeel van rykdom en winsneming van 'n maatskappy nie."
Die maatskappy Aqunion beoog om 'n perlemoenteelstasie en verwerkingsaanleg op Plaas 453 in die distrik Riversdal op Gouritsmond te ontwikkel. Die terrein van 13 ha is sowat 10 km vanaf Gouritsmond en reg langs die Gourikwa-natuurreservaat geleë. Suid-Kaap Forum het die terrein besoek ten einde die inwoners se bekommernisse beter te verstaan.
Enkele toegangsroete
Die enigste toegangsroete na die terrein is 'n grondpad wat deur Gouritsmond se middedorp en teenaan die rotsagtige kuslyn na Gourikwa-natuurreservaat loop. Die smal kronkelpad, wat in onbruik verval het toe 'n nuwe pad tussen die dorp en Stilbaai gebou is, word nie onderhou nie. Dit word hoofsaaklik deur fietsryers, hengelaars en grondeienaars wat nuwe toerisme-infrastruktuur ontwikkel, gebruik. Plek-plek is die pad net meer as 450 cm wyd.
Aan die seekant strek die hoogwatermerk tot teen die pad wat op seevlak is; aan die duinekant is riete, wat kenmerkend is van 'n vleiland, tussen die ruie duinebosse van die pad af sigbaar.
Die kronkelende grondpad loop reg langs die see vanaf Gouritsmond tot by Gourikwa-natuurreservaat. Regs van die pad is die terrein wat die maatkappy Aqunion in 'n perlemoenaanleg wil omskep.
Unieke ekologie
Waar 'n varswaterfontein uit die duine in die see loop, kom 'n klompie swart tobies gereeld water drink. Die baie skaars Suid-Afrikaanse witkruisvalk is endemies aan die vleilande. Naas 280 voëlspesies wat in die unieke voëlkorridor voorkom, is hier ook 'n verskeidenheid soogdiere. Vier tipes plantegroei, naamlik soutmoeras, kusstrandveld, duinstruikgewas en oorgang-fynbos-proteaveld kom voor. Twaalf van die 92 plante wat op die Gouritzrivier-bewaringstrust se plant- en staproetegids gelys is, word as bedreig geklassifiseer.
Vars water vloei uit 'n fontein in die duine tot by die see en swart tobies kom dikwels hier drink.
Vleilande
In 'n vorige berig in Suid-Kaap Forum 'Vleiland op terrein kan fabriek kelder' (21 Februarie) het die Sambreelliggaam gesê dat daar vleilande op die terrein voorkom. Geen ontwikkeling mag binne 500 m van so 'n vleiland gedoen word nie.
Dié vleiland, gekenmerk deur riete, palmiet en ryk veengrond, is reg langs die pad.
Aqunion se kommentaar
Aqunion lewer soos volg kommentaar: "Die korrekte prosedure, in lyn met die Nasionale Waterwet en die Nasionale Omgewingsbestuur, is gevolg om die teenwoordigheid of afwesigheid van vleilande op die terrein te bepaal. Volledige inligting is beskikbaar gestel aan belanghebbendes."
Aqunion het aangevoer dat die aantygings wat die Sambreelliggaam impliseer van alle waarheid ontneem is.
Kyk 'n video hieronder:
Lees vorige artikels hier:
- Fabriek se impak kwel inwoners
- Vleiland op terrein kan fabriek kelder
- Vleiland kan perlemoenfabriek stuit
- Gourits appeleer teen perlemoenfabriek
- Perlemoenplaas-sage duur voort
- Perlemoenplaas steeds in spervuur
- Perlemoenplaas: 'n Moontlikheid vir Gourits
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'