Update
GOURITSMOND NUUS - Lede van die Gouriqua-bewarea by dié kusdorp is eenparig gekant en het appèl aangeteken teen 'n perlemoenfabriek wat reeds deur die departement omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning goedgekeur is.
Die maatskapy Aqunion, wat 'n soortgelyke perlemoenfabriek by Hermanus bedryf, maak volgens die bestuur van die bewarea, wat eienaars en ander belanghebbendes verteenwoordig, leë beloftes waarmee selfs omgewingsake nie gemaklik is nie.
"Ons appèl staan daarop dat die omgewingsimpakte op die natuurlike kusgebied, asook op die sosiale (menslike) omgewing nie behoorlik oorweeg is nie,"
sê Johan Groenewald, sekretaris van die bewarea, wat die appèlaansoek gebring het.
"Die voorgestelde fabriek is 'n ingreep op die Gourits-kuslyn en die dorp – op die hele omgewing – en dit is nie in lyn met die plaaslike inisiatiewe en struktuurbeplanning, soos beweer word nie."
Die besware teen die fabriek is tweërlei: Eerstens word gevrees dat dit sal lei tot maatskaplike ontwriging en ontwrigting van maatskaplike dienste weens toestroming van werksoekers. Daar is nie infrastruktuur of blyplek vir hierdie mense op Gouritsmond of Albertinia nie en kan lei tot die ontstaan van plakkerskampe en die sosiale probleme wat daarmee gepaardgaan.
Dit kan ook lei tot onrus wanneer werknemers wat Aqunion inbring en die plaaslike gemeenskap vir wie die belofte van werksgeleenthede voorgehou is, nie gebeur nie. Die maatskappy se werkers is nie verteenwoordigend van die Wes-Kaapse of Overbergse gemeenskappe nie.
Tweedens kan dit lei tot ernstige misdaad omdat perlemoendiewe daarvoor berug is dat hulle nie skroom om voertuie wat die kosbare kommoditeit vervoer, met aanvalsgewere te beroof nie. Die sekuriteit wat die perlemoenplaas in vooruitsig stel gaan voorts ook die beweging van toeriste en inwoners belemmer.
Nog 'n belangrike beswaar is dat die geraas, reuke, besoedeling, industriële padverkeer waarvoor die paaie nie ontwerp is nie, instroming en misdaad die rustige en vreedsame leefwyse gaan vernietig. Dit sal onvermydelik daartoe lei dat eiendomswaarde val. Die impak van ontwikkeling is ook nie versoenbaar met bewaring en die behoud van ongerepte plekke nie.
"Ons stel voor dat die goekeuring vir 'n perlemoenfabriek tersyde gestel word. Aqunion se webwerf sê hy het die reg om oor 40 km aan die Weskus perlemoenfabrieke te bou – dus het hy genoeg plek vir 40 uitgespasieerde perlemoenfabrieke daar."
Die finale punt op die appèlaansoek wys daarop dat grondeienaars net een huis nader as 1 km vanaf die see mag hê, maar minstens 100 m weg van die hoogwatermerk. "Hier sien ons nou 'n fabriek 50 meter van die hoogwatermerk; binne 'n kusbeskermingsgebied; aan die seekant van die kusbestuurslyn; met 31 geboue binne 1 km van die kus; en alles onder die 5 meter-kontoer. Word al die formele voorskrifte nou oorboord gegooi?"
Lees vorige artikels hier:
- Perlemoenplaas-sage duur voort
- Perlemoenplaas steeds in spervuur
- Perlemoenplaas: 'n Moontlikheid vir Gourits
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'