Update
GOURITSMOND NUUS - Meeste inwoners is erg gekant teen die beplande ontwikkeling van 'n perlemoenplaas op gedeelte 6 van die Plaas 453 op Gouritsmond.
Die aansoek is op 21 Januarie deur die Wes-Kaapse regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning (DEA & DP) goedgekeur.
In 'n telefoniese gesprek met Org Niewoudt, voorsitter van Gourits-sambreelliggaam wat later per e-pos bevestig is, het hy aan Suid-Kaap Forum genoem dat hulle die goedgekeurde aansoek bestudeer en sekerlik sal appelleer.
"Indien ons appèl nie slaag nie, sal ons ook na die hooggeregshof gaan vir 'n hofuitspraak indien moontlik."
Die besware spruit uit die feit dat die ontwikkeling in 'n té sensitiewe gebied langs die Gouriqua-natuurreservaat is. "Dis die grootste privaat natuurreservaat aan die een kant en die Gouritsriviermond (river estuary) net 10 km seelangs aan die anderkant."
Volgens Niewoudt kan dit ook 'n impak op Stilbaai seereservaat hê. "Dit val ook binne 100 km vanaf die voorgestelde Agulhas seereservaat en dit is self 'n bekommernis vir die DEA & DP, soos in hulle kommentaar in die dokument gelewer. Natuurlike bates kan nooit vervang word nie. Geboue en infrastruktuur kan gebou en afgebreek word, maar as die natuur geskaad is, is dit feitlik onmoontlik om dit om te keer."
Hy beklemtoon dat 99% van die gemeenskap teen die goedgekeurde ontwikkeling is, daarom het hulle geen ander keuse as om dit teë te staan nie. "Moontlike sosiale probleme is nie uitgesluit nie. Op die oomblik is daar feitlik geen infrastruktuur wat aan so 'n industrie se vereistes voldoen nie, wat die langtermyn volhoubaarheid in twyfel trek. Die nadele wat die ontwikkeling mag hê, is by verre meer as wat die voordele is. Aangesien ons nou in 'n appèlproses is, kan die nadele egter nie nou in besonderhede bespreek word nie."
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'