Update
RIVERSDAL NUUS - Stephen Pain en sy regsverteenwoordiger staan die uitspraak van sy saak teen nadat hy Vrydag 9 Maart weer in die hof op Stilbaai verskyn het.
Hy is daaraan skuldig bevind dat hy die beskermingsbevel teen hom oortree het en is 'n boete van R1 000 opgelê.
'n Bekende inwoner, voormalige politikus en boer van die omgewing, Theuns Botha en sy vrou, Sarie, het reeds drie jaar gelede, in 2015, die beskermingsbevel teen Pain gekry, omdat hy na bewering 'n skrikbewind teen hul gesin voer.
Landdros Retha Pretorius het tydens haar uitspraak gesê dat Pain nie daaraan skuldig is dat hy Sarie Botha na 'n winkel gevolg het nie, maar wel dat hy 'n video-opname van haar voertuig gemaak het wat buite die winkel gestaan het.
''Sy het daardeur bedreig gevoel.'' Sy het bygevoeg dat dit nie goed is dat hulle nie in goeie buurmanskap met mekaar saamleef nie, maar dat daar 'bad blood' tussen hulle is.
In Pain se verweer het sy prokureur gesê dat dit nie sy voorneme was om haar lastig te val of te teister nie, maar dat hy die voertuig afgeneem het omdat hy vermoed het dit was dieselfde voertuig wat, volgens hom, hom blykbaar in 'n vorige geleentheid amper raakgery het.
Pain het aan Suid-Kaap Forum gesê dat hy verras en geskok is oor die uitspraak en dit daarom gaan teenstaan.
Hy verskyn weer op 4 Junie in die Riversdal-landdroshof vir aansoek om appèl.
Lees vorige berigte hier:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'