Update
STILBAAI NUUS - Die aansoek om Julie se Baai te huur, is afgekeur.
Die aansoek is vroeër vanjaar by Hessequa-munisipaliteit ingedien om 'n gedeelte van Julie se Baai te huur.
Volgens 'n woordvoerder van 'The Revival Project', sou hulle skeepsvraghouers in wooneenhede omskep om geskoolde gegradueerdes van ander lande hierheen te bring, wat op 'n unieke manier hul kennis en ondervinding met die gemeenskap kan deel. Dit word 'voluntourism' genoem.
Die Hessequa uitvoerende burgemeesterskomitee het dié aansoek egter Woensdagoggend 27 Februarie afgekeur. 'n Totaal van 637 besware is van inwoners wat teen die projek gekant is, ontvang. 'n Inwoner wat die sessie bygewoon het, het gesê: "Ons het regtig skaam gekry vir hoe van die mense opgetree het. Al is jy gekant teen die projek is dit nie nodig om jouself so te wangedra nie."
Op navraag het die woordvoerder die volgende per e-pos aan Suid-Kaap Forum gestuur: "I wish the people of Stilbaai well and I hope the next time there is a 'true' threat of a squatter camp popping up in the area they don't ignore it assuming its another international entrepreneur looking to make upgrades to the campsite."
Volgens Grant Riddles, uitvoerende burgemeester, is die afkeur van die aansoek in die beste belang van die meerderheid van die inwoners.
"'n Volledige verslag is aan die burgemeesterkomitee voorgelê, waarin die potensiële voordele, nadele en risiko's, sowel as die impak van die beoogde ontwikkeling op die plaaslike ekonomie, omgewing, infrastruktuur en werkskeppingsgeleenthede uiteengesit is."
Die verslag is saamgestel na die aanvang van die aansoekproses, waarin die gemeenskap se insette ingewin is en die geleentheid ontvang het om die volledige aansoek na te vors en hul feitlike kommentare by die munisipaliteit in te dien.
Die volgende redes is verskaf waarom die aansoek afgekeur is
- Die aansoeker het nie volledige inligting met betrekking tot die impak van die projek op munisipale infrastruktuur ingedien nie.
- Onvolledige uiteensetting en beplanning van die potensiële voordele op die ekonomie en werkskepping in die omgewing asook hoe dit bereik sou word.
- Enige verandering aan die status van Julie se Baai sal deur die proses van die wysiging van die Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk (ROR) moet geskied, wat 'n publieke deelname proses vereis.
Lees verwante artikels hier:
- Julie-se-baai: Aansoek afgekeur
- Vonke spat oor aansoek
- Inwonders warm onder kraag oor aansoek.
- 'n Tamaai lawaai oor Julie se baai.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'