Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Die vonke het byna gespat tydens 'n inligtingsvergadering wat gereël is deur die persoon wat aansoek gedoen het om Julie se Baai te huur, Giuliano Giacovazzi.
Dié vergadering het in die plaaslike gemeenskapsaal op Vrydag 18 Januarie om 15:00 plaasgevind - en hoewel dit 'n normale werksdag was, het dit voorgekom of 'n baie groot deel van Stilbaai se inwoners teenwoordig was. Die sysaal was hopeloos te klein en moes die deure na die hoofsaal oopgemaak en nog stoele aangedra word om almal te kon akkommodeer.
Giacovazzi was duidelik verbaas oor die groot opkoms, maar teenstrydig met wat hy waarskynlik verwag het, was dit nie 'n vriendelike gehoor nie. Orde moes dikwels geroep word deur van die teenwoordiges en nog voor Giacovazzi enige inligting kon verskaf, het inwoners hul besware luidkeels te kenne gegee.
Kyk 'n video hieronder:
Die heel eerste beswaar wat aangeteken is, is dat die vergadering slegs 'n inligtingsessie is en die munisipaliteit nie kan verwag dat besware reeds op 1 Februarie ingedien moet wees nie, omdat die raad nie in sy amptelike hoedanigheid teenwoordig is nie. Rdl. Tinus van den Berg wat wel by die vergadering was, het gemeld dat hy nie daar was omdat hy afgevaardig is nie en dat dit wel slegs 'n inligtingsvergadering was wat deur die aansoeker self gereël is.
Ander besware wat aangeteken is, was dat niemand enigiets van die aansoeker weet nie, soos sy identiteitsnommer, waarvandaan hy kom, of hy 'n kriminele rekord het of kredietwaardig is nie - en een persoon het beswaar gemaak omdat sy Afrikaans is en nie verstaan wat hy sê nie, omdat hy Engels praat.
Een van die aanwesiges het inligting op die internet verkry dat Giacovazzi by die Hangover Hospital, October Fest 2016, by 'n bierfees betrokke was wat blykbaar deur alkoholmisbruik en seks gekenmerk was.
Eers nadat iemand uit die gehoor die teenwoordiges gevra het om die aansoeker 'n kans te gee om sy saak te stel, het Giacovazzi aan die woord gekom.
Hy het genoem dat hy wel sy besigheid opgebou het deur die feeste, maar dat jongmense nie na Stilbaai gaan kom om partytjie te hou nie - daarvoor sal hulle na stede soos Kaapstad en Johannesburg gaan. Hy het kortliks sy agtergrond geskets en voorts verduidelik dat hy nie van voorneme is om laekoste-behuising by Julie se Baai op te rig nie, maar om hoogs geskoolde gegradueerdes van ander lande hierheen te bring wat op 'n unieke manier deur die wêreld wil toer. Op dié manier kan hulle hul kennis en ondervinding deel. Hy het bygevoeg dat hy van voornemens is om vyf skeepsvraghouers wat reeds in wooneenhede omskep is, hierheen te bring en dat daar nie op die perseel gebou en gebreek sal word nie.
Kapt. Johan van Tonder, plaaslike stasiebevelvoerder het aan Giacovazzi gesê dat hy nie 'n behoorlike analise van Stilbaai en Julie se Baai gemaak het nie.
Volgens hom is die feit dat vakansiegangers tydens die feesseisoen op Julie se Baai kamp, dit nie van die terrein 'n kampterrein maak nie.
Hy het ook gevra of Giacovazzi bewus is van die ander opheffingsprojekte wat reeds in die omgewing op die been is, soos die Dreamcatchers en Ouma Lena se Huis.
Op navraag aan Hessequa-munisipaliteit het Marina Griesel, waarnemende munisipale bestuurder gesê dat die kennisgewing reeds op 11 Januarie 2019 in die Suid Kaap Forum verskyn het en die sluitingsdatum vir besware 1 Februarie 2019 is. "Geen uitstel kan of gaan verleen word nie. Alle besware wat voor of op 1 Februarie 2019 ontvang word sal deur die Raad oorweeg word."
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'