STILBAAI NUUS - Verskeie mense en groepe het op sosiale media hulle misnoeë teenoor die voornemende ontwikkeling uitgespreek.
Volgens die kennisgewing doen ene Giuliano Giacovazzi aansoek om Julie se Baai te huur vir die doel om bekostigbare akkommodasie-eenhede op die stuk grond te vestig. Dit sal in die vorm van skeepsvraghouers (containers) wees.
Op die koerant se navraag het Giacovazzi genoem dat slegs hy en van sy personeel permanent daar sal woon. Vervolgens noem hy dat fase een verblyf vir persone wat vrywillige werk doen terwyl hulle toer, sal bied. Dít word voluntourism genoem.
“Wat die eintlike objektief is, is dat die projek Europese, Kanadese en Amerikaanse jongmense lok, wat volunteerwerk in minderbevoorregte gemeenskappe doen terwyl hulle op hulle sogenaamde ‘gap-year’ is. Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat die projek daartoe mik om hierdie hoë kaliber besoekers dwarsdeur die jaar te lok.”
Fase twee sluit eko-vriendelike en ’n selfonderhoudende gedeelte in. ’n Gedeelte van die kampterein sal steeds vir kampeerders beskikbaar wees. Giacovazzi beplan om son- en windkrag te gebruik om krag te voorsien.
Hoewel die projek na ’n goeie idee lyk, is die gemeenskap bekommerd oor die feit dat hy moontlik nie by bouregulasies sal hou nie. ’n Artikel in ’n publikasie van die DistriksPos noem dat, nadat inspeksie by een van sy vorige projekte in Kaapstad gedoen is, ongemagtigde strukture gevind is.
Suid-Kaap Forum het aan hom gevra of dit waar is, waarop sy antwoord soos volg was: “Yes, but it was unavoidable unless I knew to not believe the city employee and consult with a lawyer, but I have never experienced this before in my 15 years working with cities all over the world. It was an expensive and time consuming learning curve...”
Johan Jacobs, munisipale bestuurder: Hessequa-munisipaliteit het op navraag gesê dat dit belangrik is om dit onder die gemeenskap se aandag te bring dat die munisipaliteit nog geen standpunt ten opsigte van Giacovazzi se aansoek, of ten opsigte van die verhuring van Julie se Baai geneem het nie.
“Die aanvang van enige aansoekproses is om openbare insette in te win en die gemeenskap die geleentheid te bied om nie op persepsies (waarnemings) te reageer nie, maar wel die volledige aansoek na te vors en hul kommentare op feite te baseer. Die proses stel die munisipaliteit in staat om feitlike inligting na die raad te neem, waarna die raad ’n ingeligte besluit kan neem.”
Giacovazzi sal blykbaar ’n inligtingsessie aanbied waarby hy vrae sal antwoord en die hele proses verduidelik.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'