SLANGRIVIER NUUS - Die aandklokreël wat sedert 1 Mei ingestel is, skrik klaarblyklik nie kwaaddoeners af om misdaad te pleeg nie.
Diewe het vir die vierde keer vanjaar by Slangrivier Primêre skool weereens groot skade aangerig toe hulle die afgelope naweek daar ingebreek het.
Volgens Jabe Hoogbaard, beheerliggaamvoorsitter het die skool se tuinier Sondagoggend 10 Mei op die inbraak afgekom toe hy die tuin gaan natlei het. Die vorige inbrake het
net voor die inperking afgekondig is, plaasgevind. Daar was onderskeidelik gedurende die nagte van 19/20 Maart, asook 22/23 Maart ingebreek.
In die nuutste voorval het die kwaaddoeners toegang verkry deur die veiligheidshek van die kombuis oop te breek, waarna hulle die onderdeur oopgebreek het om hul plundertog voort te sit. Aansienlike skade is veral in die prinsipaal en sekretaris se kantore aangerig en boeke, dokumente en ander items het oral rondgelê. Pogings om die kluis oop te kry het misluk. Toegang is ook tot die boekestoor verkry en 30 tablette is gebuit.
"Dit is tragies dat dié persoon/e 'n belangrike gemeenskapsfasiliteit so minag en deur hulle onverskillige aksies die skoolgemeenskap groot leed aandoen,” het die prinsipaal, Raymond Damons tydens ’n telefoniese onderhoud Maandagoggend gesê.
Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Die polisie doen 'n dringende beroep op enigiemand wat inligting kan verskaf om hulle dadelik in kennis te stel.
Die diewe het behoorlik chaos gesaai.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'