SLANGRIVIER NUUS - Groot skade is aangerig toe diewe die afgelope naweek vir die tweede keer binne vier dae by Slangrivier Primêre skool ingebreek het.
Volgens Jabe Hoogbaard, beheerliggaamvoorsitter is daar die nag van Donderdag 19/20 Maart en weer Sondagnag 22/23 ingebreek. Tydens die eerste inbraak is 'n DVD-speler, asook 'n Open View-dekodeerder gesteel, terwyl slegs 'n veeldoelige elektriese kragprop (multipurpose plug) Sondagnag uit die biblioteek gesteel is.
Buiten die goedere wat gesteel is, is groot skade aangerig.
Tydens die eerste inbraak het die diewe van 'n passerkoevoet (tommybar) gebruik gemaak.
Hoogbaard het Maandagoggend saam met Raymond Damons, prinsipaal op die polisie se forensiese span gewag om vingerafdrukke te neem en om die omvang van die skade te bepaal.
Boeke, dokumente en ander items is oral rondgestrooi. Skade is aan verskeie items in die biblioteek aangerig.
Niemand is nog vir die misdade gearresteer nie. Die polisie en beheerliggaam doen 'n dringende beroep op enigiemand wat inligting kan verskaf. Volgens Hoogbaard bied die skool 'n beloning van R250 aan vir inligting wat tot die inhegtenisneming en suksesvolle skuldigbevinding van die oortreders sal lei.
Die koevoet wat die diewe gebruik het om toegang tot die perseel te kry is op die toneel agtergelaat.
Die skade aan die veiligheidshek is duidelik sigbaar waar die diewe toegang verkry het.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'