GOURITSMOND NUUS - Woensdag, 5 Mei is 'n dag wat Gouritsmonders nie gou sal vergeet nie.
Verpletterende haelkorrels het omstreeks 12:00 vir ongeveer 'n halfuur op die kusdorpie neergeval, gevolg deur swaar reënval en massiewe skade is aan etlike huise veroorsaak.
Foto's en videos van die stormskade het soos 'n veldbrand op sosiale media versprei.
'n Nuusbrokkie wat op die Mossel Bay Advertiser se Facebookblad kort na die storm geplaas is, is tot op hede aan 267 450 sosiale media gebruikers bedien en het 44 208 interaksies gehad. Die foto's en videomateriaal is 1 600 keer via Facebook gedeel en dit het kommentaar van nagenoeg 200 persone uitgelok.
180mm
'n Inwoner van Seesigweg, De Waal Carstens wat sedert 1985 'n huis op Gouritsmond besit, is 180mm reën in die 24 uur periode van Woensdag na die storm tot Donderdag, 6 Mei gemeet. Haelkorrels so groot en groter as gholfballe is rondom huise opgetel.
"Dit het soos kanonvuur geklink," vertel 'n inwoner van Mosselkrakerstraat. Namate die storm bedaar het, is al meer berigte ontvang van massiewe binnenshuise skade aan plafonne, kaste, meublement en klerasie.
Mosselbaaise boukontrakteur, Kosie Gericke berig dat hy sy eerste oproep na die storm omstreeks 14:00 van 'n huiseienaar in Kusweg ontvang het.
"Ek het my manne op ander persele gaan haal en Gourits toe gejaag om noodherstelwerk te doen. Dakplate het afgewaai en daar was baie gate orals in dakke."
Sommige wonings se ruite is stukkend geslaan.
"In die haas om beskadigde dakke toe te kry is enige vorm van waterdigting gebruik. Selfs swart plastiekseil is oor dakke getrek en met klippe vasgepak. Kontrakteurs het links en regs dakke reggemaak. Dit het gewemel op Gourits."
Twee van die dakke waaraan Gericke gewerk het, het onder meer 194 gate en 89 krake, 'n ander weer 124 gate en 59 krake.
Marlin Jansen, stigter en voorsitter van die Gouriqua Development Foundation berig dat 24 huise in Bitouville erge skade het. Meeste hiervan, het nog asbesdakke.
"Ons het hulp aan veral bejaardes verleen. Daar is innoverend opgetree om te probeer keer dat die reën verdere skade veroorsaak." Jansen het 'n oproep om skenkings gedoen, aangesien lede van die gemeenskap nie oor korttermynversekering beskik nie.
Waterkrisis
Die watertoevoer op Gouritsmond is Saterdag, 8 Mei gestaak. Vanweë die storm is die waterkwaliteit van die waterbron wat rouwater aan Gouritsmond se wateraanleg voorsien, beïnvloed. Die reservoir is leeggetap, skoongemaak en weer opgevul. Water is by wyse van tenks op strategiese punte aan inwoners verskaf.
Die watervoorsiening het Dinsdag, 11 Mei weer na normaal teruggekeer.
Verskeie Gouritsmonders is genoop om vanweë die skade aan hulle huise te ontruim en stoorplek vir hulle huisraad te vind. Berigte is ook ontvang dat inwoners baie getraumatiseerd is na die gebeure.
Asbeskrisis
Huis- en besigheidseienaars staar nuwe kommer in die gesig in terme van die regulasies soos uitgevaardig in November 2020 deur die minister van indiensneming en arbeid wat handel oor die hantering van asbes. Hiervolgens mag slegs geakkrediteerde kontrakteurs asbes verwyder, wat kan meebring dat daar 'n verdere koste-implikasie vir die eienaars van beskadigde eiendomme kan wees. Herstelwerk kan ook vertraag word aangesien die nodige goedkeuring eers voor verwydering moet plaasvind.
Org Niewoudt, sakeman van Gouritsmond het sy kommer hieroor uitgespreek. As voorsitter van die Gourits-sambreeliggaam, bestaande uit vier gemeenskapsorganisasies meen hy dat die gemeenskap as rampslagoffers tegemoet gekom moet word. "Ons voel dat die owerhede vir die asbesverwydering in rampomstandighede moet betaal."
By navraag aan Hessequa-munisipaliteit oor in welke mate die plaaslike regering die verwagte las op inwoners ligter kan maak, is die volgende kommentaar by monde van die woordvoerder, Didi Budricks ontvang: "Die regulasies maak nie voorsiening vir enige vrystelling (exemption) nie." Volgens die wetgewing moet asbeswerke wat as tipe 2- en 3-asbeswerke beskou word, deur 'n geregistreerde asbeskontrakteur gedoen word nadat goedkeuring deur die hoof-inspekteur gekry is.
Volgens die jongste inligting ontvang van 'n betroubare bron op Gouritsmond, is 'n aansoek om vergunning en/of kwytskelding van asbesverwyderingskostes deur die burgemeesterskantoor aan minister Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning gestuur. Daar is ook sprake van die ontwikkeling van 'n oorhoofse asbesverwyderingsplan vir die geaffekteerde strukture. Navrae is ter bevestiging hiervan is teen druktyd aan die Hessequa-munisipaliteit gestuur en terugvoering word ingewag.
Die Hessequa-munisipaliteit se kommentaar op navrae wat na druktyd op Vrydag, 14 Mei ontvang is, is soos volg:
“? Versoek om vrystelling was deur die kantoor van die uitvoerende burgemeester aan minister Bredell gestuur en is die munisipaliteit nog steeds in afwagting vir terugvoering vanaf die minister se kantoor. Hessequa-munisipaliteit se eiendomsbestuur-afdeling het ook kwotasies van ‘n kontrakteur aangevra om beskadigde asbesdakke van munisipale geboue te vervang en te verwyder, soos vereis deur die relevante wetgewing. Die kontrakteur, wie geregistreer is om asbes te verwyder, se besonderhede is aan die gemeenskap beskikbaar gestel, wie op eie koste en onafhanklik van die munisipaliteit van die kontrakteur gebruik kan maak. Addisioneel, is ’n aansoek om fondse vir die herstel van 17 huise se beskadigde asbesdakke is ook deur die munisipaliteit se gemeenskapsdienste direktoraat voorberei en by die departement van menslike nedersettings ingedien vir oorweging, en word die uitkomste daarvan tans afgewag. Die 17 huise is in Bietouville geleë.
“Alhoewel dit nie die verantwoordelikheid is van plaaslike owerheid om toe te sien dat die verwydering van Asbes deur privaat persone ook ingevolge die toepaslike wetgewing geskied nie, poog Hessequa-munisipaliteit altyd om alle inwoners by te staan en prosesse vir belastingbetalers/inwoners te vergemaklik. Hierdie aksie van Hessequa-munisipaliteit is deel van die praktiese uitlewing van die raad se beleid as ‘omgee munisipaliteit’ soos in die raad se GOP uiteengesit.”
'n Yslike gat in die venster wat deur 'n haelkorrel veroorsaak is.
Vorige artikels:
- Reën, hael en wind rig groot skade aan
- Diensonderbrekings weens ongure weer
- Ook Malgas spring nie vry nie
- Albertinia loop ook deur
- Gouritsmond en Stilbaai onder water
- Hewige storm tref dele van Tuinroete
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'