STILBAAI NUUS - Wat as van die belangrikste lesse wat kinders kan leer, nie tussen vier mure plaasvind nie, maar buite in die natuur?
Dit is die uitgangspunt van Wild Classroom, 'n nuwe omgewingsopvoedingsprogram wat deur Wild Rescue-natuurreservaat naby Stilbaai van stapel gestuur is.
Die program het ten doel om skoolleerders uit omliggende gemeenskappe na die reservaat te bring, waar hulle die natuur eerstehands kan verken, ervaar en leer ken.
Dertig hoërskoolleerders van Gerrit du Plessis Sekondêr in Riversdal was die eerste deelnemers aan die program. Hulle het hul lessenaars en handboeke vir die fynbosbedekte heuwels en uitsigte oor die Goukourivier verruil.
Volgens Gill Simpson, stigter en direkteur van Wild Rescue, is daar 'n wesenlike verskil tussen om 'n ekosisteem in 'n handboek te bestudeer en om fisies daarin te staan.
Wanneer leerders die natuur kan sien, ruik, aanraak en daardeur stap, word die onderwerp volgens haar iets tasbaars en boeiend.
Andor Venter, 'n bekende plantkundige, navorser en opvoeder van Tuin-Op-Die-Brak en die herbarium in Stilbaai, het die leerders met 'n 30-minute inleiding aan die Kaapse Floristiese Streek bekendgestel.
Daarna het die groep saam met dr. Wilhelm de Beer van die Gouritz-groepsbiosfeerreservaat (GCBR) die veld ingegaan.
Tydens die stap deur die reservaat het De Beer die leerders aan inheemse spesies en die veld bekendgestel en verduidelik hoe die natuurliike verhoudings binne 'n ekosisteem saamwerk.
Die groep het die dag met 'n bespreking oor plaaslike ekosisteme by die opvoedingsentrum afgesluit voordat die leerders na Riversdal teruggekeer het.
Die organisasie hoop dat Wild Rescue 'n nuwe geslag jong natuurbewaarders sal help vorm.
Die reservaat nooi nou skole, jeugorganisasies en kindergroepe uit die omliggende streek uit om aan Wild Classroom deel te neem.
Vir meer inligting rakende die Wild Classroom-program kan Wikus Engelbrecht by [email protected] gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’