HEIDELBERG NUUS - Die Heidelberg-polisie se Slagofferbemagtigingsprogram, beter bekend as die Traumakamer, het Donderdag 20 Augustus sowat 20 vroue tydens 'n spesiale geleentheid ter afsluiting van Vrouemaand bederf.
Die oggend is met Skriflesing en gebed deur Magdalena Theodore, reservis en lid van die plaaslike vrouenetwerk, geopen.
Dottie Page, traumaberader, het die vroue aangemoedig om hul plek as volwaardige vroue in te neem en hul waarde te besef.
Kapt. Barto Joubert, waarnemende stasiebevelvoerder, het die doel van die geleentheid toegelig. Kapt. Babalwu Mofu, plaaslike Vispol-bestuurder, het vroue aangemoedig om sake van mishandeling aan te meld en nie in stilte te ly nie.
Carinne Boesak, maatskaplike werker by Mosaic, het beklemtoon dat vroue nie mishandeling deur lewensmaats moet aanvaar nie.
Elizabeth 'Jasi' Jacobs, plaaslike entrepreneur en vroueregteaktivis, het uit haar eie 22 jaar lange ervaring as slagoffer van gesinsgeweld vertel. Sy het onder meer onthul dat sy 14 keer met 'n skêr gesteek en sewe dae lank as gyselaar aangehou is.
Jacobs het vroue aangemoedig om ongesonde verhoudings te verlaat voordat dit te laat is.
Die oggend is afgesluit met gelukstrekkings. Louise Stoffels en Andeline Farland het elk 'n koopbewys gewen, waarna verversings aan die vroue bedien is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’