STILBAAI NUUS - Dulyn Kleinhans, wat in die klein dorpie Melkhoutfontein gebore is en grootgeword het, het sy persoonlike lewensverhaal in 'n boek saamgevat - nie net om sy eie reis te dokumenteer nie, maar veral om jongmense te bemoedig.
Gay-Lee Pietersen het Saterdagoggend, 5 September, tydens die bekendstelling van Kleinhans se boek, Finding Ivan, in die Melkhoutfontein-gemeenskapsaal as gespreksleier met hom gesels.
Die boek is 'n getuienis van 'n lewe wat nie altyd maklik was nie. Kleinhans vertel van die uitdagings wat hy as jongmens moes hanteer, waaronder om sonder 'n pa groot te word, ingrypende veranderinge in sy lewe en die druk om by sy portuurgroep in te pas.
Ten spyte van hierdie lewensveranderende ervarings, het Kleinhans gekies om nie toe te laat dat sy verlede sy potensiaal beperk nie. Hy het besluit om aan homself te werk en 'n beter mens te word - nie net vir homself nie, maar ook om aan sy geliefdes te bewys dat verandering moontlik is.
Kleinhans se geloof speel vir hom 'n belangrike rol in dié proses.
"Ek het besluit om hierdie boek te skryf omdat ek wou hê my storie moet jong tieners bereik en vir hulle wys dat daar 'n uitweg is - daar is altyd 'n silwer randjie," verduidelik hy.
Volgens hom het jongmense soms bloot aanmoediging nodig van iemand wat soortgelyke uitdagings beleef het.
"Wanneer iemand jou storie hoor, kan dit hulle help om anders oor hul eie situasie te dink en uiteindelik 'n verandering in hul harte teweegbring," sê hy.
Met Finding Ivan hoop Kleinhans om 'n stem van hoop vir jongmense te wees en hulle daaraan te herinner dat moeilike omstandighede nie noodwendig die einde van hul verhaal beteken nie. Sy eie verhaal wys dat 'n mens se verlede nie hoef te bepaal wie jy word nie, en dat verandering moontlik is wanneer jy bereid is om die pad van selfverbetering en geloof te kies.
Belangstellendes kan Kleinhans by 065 093 0549 kontak om die boek te bekom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’