STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Kindersentrum het Nasionale Boomplantdag op 'n besonderse wyse gevier met 'n sandolyfboom wat hulle by Jagersbosch geplant het.
Die sandolyf (Dodonaea viscosa), wat ook as 'n ysterboom of sandolien bekend staan, is 'n ideale skermboom wat tot sowat drie meter hoog kan word.
Die immergroen boom kan deur snoei in 'n kompakte, klein koelteboom gevorm word. Dit is 'n geharde en maklik-groeiende plant wat min water benodig en daarom besonder geskik is vir tuine waar waterbesparing 'n prioriteit is.
Sophia Jacobs van die Garden Corner in Stilbaai het die boom aan die Stilbaai Kindersentrum geskenk. Sy was ook byderhand om die kinders meer van die sandolyf te vertel en te verduidelik waarom bome so belangrik is.
Leonie van der Merwe van die Jagersbosch-gemeenskapdienssentrum het die Kindersentrum vir die boom bedank en belowe dat hulle goed daarna sal omsien.
"Ons het die skaduwee broodnodig," het sy gesê.
Van der Merwe het ook gesorg dat die kinders nie met leë hande huis toe gaan nie. 'n Pakkie lekkers vir elke kind het gesorg vir heelwat opgewondenheid en blink ogies onder die jong boomplanters.
Die nuwe sandolyf sal mettertyd nie net waarde tot die Jagersbosch-omgewing toevoeg nie, maar ook 'n welkome bron van skaduwee wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’