Gallery Update Video
WITSAND NUUS - Suid-Afrika se nommer een, Dylan Frick het seker gemaak hy roei 'n eerste plek los tydens die sesde jaarlikse Pili Pili Whale of a Race Saterdag 29 September sodat hy met 'n perfekte seisoen kan afsluit.
In 'n onderhoud met Frick het hy gesê dat hy vir 'n wen baklei het sodat hy nie met een verloor op sy kerfstok vir vanjaar hoef te sit nie. Hy bly dus nommer een en wen R10 000. Frick het kat-en-muis met Thomas King gespeel, wat tweede geëindig het. King het R5 000 en Rory Smyth R2 500 vir sy derde plek ontvang.
Tarryn King het sterk begin en haar kennis van die see en strome tot haar voordeel gebruik. Sy wen die vroue-afdeling en vat net soos die manswenner R10 000 huis toe.
Khara Doyle roei R5 000 prysgeld met haar tweede plek los en Tammy Foster wen R2 500 met haar derde plek.
Hoewel die weersomstandighede gunstig was, het 'n koue sterk wind selfs op die Breederivier klein golwe veroorsaak. 'n Goeie gees en lekker atmosfeer het geheers terwyl ondersteuners vanaf die oewer, sowel as op bote, roeiers aangemoedig het. Ten spyte daarvan dat dit 'n moeilike en uitputtende roei was, het almal die bykans 7 km-roete voltooi.
Drie atlete het aan die prone-afdeling deelgeneem. Die deelnemers gebruik dan dus nie 'n roeispaan nie, maar lê of staan op sy/haar knieë en roei met die hand.
Frick en van die ander mans deelnemers het gewys dat goeie sportmangees nog bestaan. Hulle het nadat hulle self die roete voltooi het, teruggeroei om jonger deelnemers moed in te praat.
Shayne Chipps op die sandbank. Roeiers moes hulle borde dra en oor die sandbanke draf.
Kinders so jonk as 11 en volwassenes van 50 jaar en ouer het deelgeneem. Die roete het naby die hawe begin, waarna deelnemers in die see se rigting geroei het. Hulle moes deur golwe spook tot by 'n sandbank waar elkeen sy eie bord moes dra, tot waar die rivierwater weer diep genoeg was om te kon roei. Roeiers moes om een boei en 'n kontrolepunt beweeg. Met die terugkeerslag moes elkeen weer om die boei tot in die hawe roei.
Kyk 'n video hieronder:
NSRI Stasie 33 Witsand/Port Beaufort het twee van hul bote op die water gehad vanwaar hulle deelnemers dopgehou het om seker te maak almal is veilig.
Alle borge, deelnemers en ondersteuners word deur Pili Pili Whale of a Race Witsand bedank.
Hou hulle webtuiste, www.pilipili.co.za vir ander kompetisies dop.
Dylan Frick, Suid-Afrika se nommer een Stand-Up Paddler hou sy opponent dop.
Lees 'n vorige artikel hier: Whale of race: Roeiers wys stamina
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'