Update
STILBAAI NUUS - Die dorp se hengelklub het hul jaarlikse prysuitdelingsfunksie in die klubhuis gehou waartydens verskeie hengelaars vir hul vangste vereer is.
Raldu Potgieter het die meeste visse tydens die interklubkompetisie gevang met AJ de Beer wat die meeste punte ingesamel het (276.39 hulle is ook aangewys as die sportmanne van die jaar met Elzanne Cronjé wat sportvrou van die jaar is.
Tydens die klubkompetisie is 'n totaal van 515 visse wat 1 870,17 kg geweeg het, gevang waarvan 307 eetbare visse (383,48 kg) was met 208 nie-eetbare visse (1 486,69 kg).
Die klub se topdrie hengelaars is gewen deur Xander de Beer met 516.07 punte. Hy het ook die meeste spesies (16) tydens Stilbaai se kompetisie gevang en ook die grootste nie-eetbare vis, 'n skeurtandhaai van 127,67kg. Sy broer, AJ, was tweede (316.14 punte) met Stefan van Huyssteen derde (314.66 punte).
Lena Cronjé het die grootste elf (2,45 kg), asook hondhaai van 13.56 kg gevang, wat beide damesrekords is. Van Huyssteen het die grootste galjoen gevang (3,04 kg) terwyl René Cronjé se kabeljou van 7,92 kg die grootste was. Sy blou pylstert van 17,54 kg is ook 'n senior-rekord terwyl dit ook die mees uitsonderlike vangs was. Cronjé is ook as die topmeester aangewys.
Chris van Zyl se mosselkraker van 13,2 kg was die grootste en ook die grootste eetbare vis. Hy het ook die grootste roman (1,93 kg) ingekatrol. Ander wenners wat uitgetrek is, was Potgieter se kurper (2,48 kg), Richard Hartwell se poenskop (1,91 kg), Louis Janse van Rensburg se wildeperd (1,68 kg) en Riaan la Grange se belman (1,01 kg). La Grange is ook die galjoenkoning (40,49 kg) en het die meeste punte in die afdeling vir eetbare visse ingesamel (262.49), gevolg deur Xander de Beer (245.37) en Potgieter (148.36).
Die juniors het ook uitstekend gevaar en Floris Marais jr, wat 'n senior-rekord met sy Eagle van 6.24 kg aangeteken het, het die meeste vordering tydens die kompetisie getoon. Xandré Coetzee se diamond-vis (11,39 kg) en witspikkelhondhaai (1,23 kg) was o.16- en o. 21-rekords terwyl sy kabeljou van 1,81 kg ook 'n o.16-rekord was.
Celena van Zyl se eendbek van 29,57 kg was 'n o.16-rekord terwyl 'n Eagle van 1,73 kg ook 'n o.16- en o.21-rekord was. Sy is aangewys as die topjunior met 124.45 punte wat haar ook die topdame in die kompetisie gemaak het. Tom de Vynck het 'n Kaapse stompneus van 0,52 kg geland wat 'n o.16-rekord is.
Lees 'n vorige artikel: Hengelaars laat die lyne sing
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'