Gallery Update
HEIDELBERG NUUS - Bridgton moes Saterdag 27 Julie met die kous oor die kop na Oudtshoorn terugkeer nadat Heibi hulle met 34-15 in die tweede ronde van die SWDRU Premierliga gewen het.
Heidelberg was rustyd gemaklik met 22-5 voor. Die A-span beklee steeds die vierde plek op die log met 60 punte na 16 wedstryde.
Evergreens loop met 67 (16) voor, gevolg deur Progress 66 (17) en Crusaders 66 (15). Dié wen was soete wraak vir verlede seisoen se twee wedstryde wat hulle verloor het.
Die tuisspan het behoorlik druk op Bridgton geplaas deur aanval na aanval te loods.
Heibi se eerste punte is met 'n pragdrie deur Simon du Toit in die vyfde minuut aangeteken. Eslin Naudt het dit verdoel om met 7-0 voor te loop. Hulle tweede drie is deur Marcel Marais in die 12de minuut aangeteken en Yoann Hoiban het kort daarna hul derde drie gedruk, wat deur Naudt verdoel is om met 19-0 voor te loop.
Bridgton kon hul eerste punte eers na 26 minute op die telbord plaas toe Duzil Avontuur in die hoek gaan druk het, wat nie verdoel is nie.
'n Strafskop wat Naudt sekuur oor die pale stuur, maak die rustydtelling 22-5.
Hoewel Heibi weer eerste punte in die tweede helfte aangeteken het met Du Toit se tweede en sy span se bonuspuntdrie, kon Naudt nie met die doelskop slaag nie. Die besoekers het ietwat munt uit Heibi se oorgerustheid geslaan en kort daarna met twee drieë teruggeslaan toe eers Grahame September en daarna Bradwin Wanies elk 'n drie druk.
Kort voor die eindfluitjie blaas word 'n strafdrie aan Heibi toegeken om die finale telling op 34-15 te staan te bring.
Heibi se derde span wen met 21-7 na hulle rustyd met 14-0 gedraai het.
Puntemakers:
Heidelberg - Drieë: Clinton Pietersen (2) en Herschelle Pieters. Doelskoppe: Carlo Williams (3).
Bridgton - Drie: Ivanho Malgas. Doelskop: Darril Barnard.
Heidelberg se tweede span wen met 21-5 na hulle rustyd met 7-5 voorgeloop het.
Puntemakers:
Heidelberg - Drieë: Roger Williams, Johannes Kleynhans en Daylin Manho. Doelskoppe: Manho (3).
Bridgton - Drie: Devon-Jon Ewerts.
Lees 'n vorige artikel hier: Heibi neem wraak teen Bridgton
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'