Video
RUGBY NUUS - Veda Manie, algemene bestuurder van SWD-rugby, is as die South African Rugby Employer Organisation (Sareo), 'n lid van Saru, se visevoorsitter verkies.
Dit is die eerste keer dat 'n vrou die pos beklee en ook die eerste keer dat iemand uit SWD-geledere die verantwoordelikheid dra.
Sareo se taak is om die 15 "provinsies" wat deel uitmaak van die Suid Afrikaanse rugbylandskap asook Saru, se belange binne rugby te bevorder deur onder andere te help met die skryf van beleid, 'n gesentraliseerde forum te bied vir onderhandelings, te assisteer met moontlike dispuutresolusies en te adviseer oor regs- en ander regulatoriese aangeleenthede.
Lang rugbypad
Manie kom al 'n lang pad met rugby-administrasie. Sy kom oorspronklik van die Oos-Kaap en het skoolgegaan in Mosselbaai. Later het sy in George begin werk.
Sy is sedert 2011 permanent by SWD-rugby. Aanvanklik was sy die hoof- finansiële beampte. In Augustus 2019 het sy begin waarneem as hoof- uitvoerende beampte en van 1 April 2021 is sy permanent in die pos as algemene bestuurder.
Sy het Maandag aan George Herald gesê sy hou baie van rugby. Sy hou daarvan om rugby te kyk en ken al die tegniese aspekte.
VIDEO - Groot eer vir rugby-administrateur:
Sy was onlangs in San Francisco, Amerika, saam met ander Suid-Afrikaanse sportadministrateurs vir die SuperSport industrie leierskursus. Dit is 'n projek deur SuperSport wat saam met die Universiteit van Pretoria (GIBS) en die Universiteit van San Francisco aangebied is.
Die groep het uit verteenwoordigers van verskillende sportkodes bestaan. 'n Deel van die kursus is in Gauteng gedoen en 'n ander deel in Amerika. Die doel is die bevordering van sportbestuur en -leierskap binne die Suid-Afrikaanse landskap.
Sy is versigtig optimisties oor Suid-Afrikaanse rugby. Volgens haar word daar baie deur Saru gedoen. Saru is byvoorbeeld druk besig om te kyk na die bevordering van vrouerugby en verseker ook dat jonger spelers ontwikkel word.
Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby, het gesê die unie het 'n baie dinamiese bestuurder in Manie.
"Dis 'n groot eer vir die unie dat sy tot die pos verkies is. Die kennis wat sy opdoen sal ook tot voordeel van die unie en die streek aangewend kan word."
Sy bly aan as algemene bestuurder en die nuwe pos sal nie haar pligte by die unie raak nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'