Gallery Update
STILBAAI NUUS - Die eerste Funduro vir veldmotorfietsryers is op Saterdag 9 November op die dorp aangebied.
Die gemerkte sirkelroete van ongeveer 150 km is deur 85 ryers aangepak.
Hulle het by ’n restaurant net buite die dorp weggespring en oor plase in die Droëvlakte-gebied in die rigting van Albertinia gery, voor hulle omgedraai het om weer by die beginpunt te eindig. Twee bemande brandstofhervulpunte was ook beskikbaar. Ryers van so ver as Piketberg, die Kaap, George en Port Elizabeth het deelgeneem.
Die voorlopers het die roete in drie en ’n half uur voltooi. Dit was nie ’n veldren nie en elkeen kon volgens hul eie vermoëns ry. Hugo Erasmus, ’n motorverkoopsman van Riversdal was onder die eerste drie deelnemers wat by die eindpunt aangekom het. Die ander twee voorlopers was Jason Petersen en Mike Loughran van Plettenbergbaai. Die pa-en-seun-span van Riversdal, Francois en Tristan van Dyk is albei kranige motorfietsryers en hulle het onder die eerste vyf geëindig. Drie dames het ook ingeskryf.
Die Funduro het sonder voorval verloop behalwe vir ’n hoërskoolleerder van George, Francois Stumke, wat 50m voor die eindpunt geval het. Hoewel hy aandag van die mediese personeel ontvang het was hy nie ernstig beseer nie.
Volgens een van die organiseerders Elza Thiart-Botes het almal dit terdeë geniet en sien hulle reeds na volgende jaar se byeenkoms uit, al was dit nie so maklik soos sommige ander Funduro’s nie.
Hooforganiseerder Hendrik Visser bedank al die grondeienaars vir die beskikbaarstelling van hul grond, asook die deelnemers en almal wat Stilbaai se eerste Funduro moontlik gemaak het. Die ren is deur Hessequa-munisipaliteit ondersteun as ’n geleentheid om plaaslike toerisme te bevorder. Visser bedank ook die verkeersafdeling en brandweer vir hul betrokkenheid.
Lees 'n vorige artikel hier: 'n Eerste vir veldysterperde
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'