Update
HESSEQUA SPORTNUUS - Down Town-potspelklub van Albertinia het Sondag, 21 Junie op hul wenresep in Heidelberg voortgebou.
Down Town het Harlem gemaklik met 24-12 in Heidelberg kafgedraf. Dié span beskik oor jong spelers wat vir niks terugstaan nie.
Die C-span het hulle teenstanders sommer van die staanspoor af opdraende gegee en met 7-5 gewen.
Die B-span, wat die afgelope tyd kookwatervertonings gee, het hulle wedstryd met 8-4 gewen.
Die A-span het nie baie gehad om te doen nie, maar wel gewys hulle kan baie gevaarlik wees, nie slegs met tuiswedstryde nie, maar ook wegwedstryde. Heidelberg het nie 'n kans gehad om hul wedstryd te wen nie en verloor met 3-9.
In 'n ander wedstryd het Black Balls pak slae gekry teen Legend Killers. Die Legends het hulle in Heidelberg met 21-15 geklop. Slegs die C-span kon hulle wedstryd met 7-5 wen. Die B- en A-spanne van Albertinia het albei met 4-8 verloor.
Down Town van Albertinia se jong span bestaan uit agter, van links: Jake Michaels en Jesse Hermanus. Voor: Roscan Jansen, Heinrich Riddles en Shane Swartz. Foto: Heinrich Fortuin
Vorige artikel: Potspel op sy beste
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'