Update
RIVERSDAL NUUS - Op 11 Augustus 2022 is Droom hard geslaan deur 'n brand wat by die Ou Meule-tehuis in 'n inwoner se kamer ontstaan het. Wat daarop gevolg het, kan nie eintlik in woorde beskryf word nie.
Personeel het mense ontruim, sommige nog in hulle slaapklere. Alleen sou hulle nie die mas kon opkom nie, maar danksy die onbaatsugtige optrede en hulp van die Riversdal-gemeenskap, het die krisis hulle nie oorweldig nie.
In die middernagtelike ure is inwoners na veiligheid gebring, versorg en warm en rustig gehou. Party kinders het selfs by hulle ouers op die vloer kom slaap.
Chris Veldsman, uitvoerende bestuurder van DROOM, sê hulle is geweldig trots op die omgewing se mense en hulle wil die negatiewe impak wat 11 Augustus veroorsaak het, behoorlik vier met die instelling van 'n DROOM-myl tesame met die opening van die nuut opgeboude vleuel.
En nou het die groot oomblik aangebreek. Saterdag 1 April bied DROOM om 09:00 die eerste DROOM-mylbyeenkoms in Riversdal aan en wil hulle alle inwoners uitnooi om daaraan te kom deelneem.
"Ons by DROOM het dit goedgedink om almal uit te nooi om hierdie geleentheid te vier in die buitelug en wat is beter as 'n Saterdagoggend met worsbroodjies en pannekoek?"
En dubbele geluk is die amptelike opening van die nuut opgeboude vleuel by die Ou Meule-tehuis wat om 10:30 begin.
Net betyds vir die haastige manne en vroue wat die DROOM-myl afgelê het.
Die DROOM-span wil inwoners, besighede en veral skole uitnooi om aan die eerste mylbyeenkoms te kom deelneem.
Hier gaan dit daaroor om die hele gemeenskap by dié DROOM-myl betrokke te kry. Oud en jonk. Maeres, vettes, fikses, individue, besigheidseienaars en hul personeel, ampsdraers, politici, kerklui - die hele kaboedel.
Of jy nou die myl wil afdraf, stap, kruip, in 'n rolstoel gestoot word of dit met jou kierie of loopraam wil aflê, die keuse is joune.
Spanne kan saam draf en snaaks aantrek om die mylwedloop in 'n feestelike atmosfeer te omtower. Kwadrupleë sowel as ernstige atlete is almal welkom.
Daar is twee waterpunte wat deur Riversdal Spar en die Riversdal-kwekery verskaf word. Die DROOM-myl begin om 09:00 in Barrystraat en kos R20 per deelnemer. Inskrywings kan van 08:00 af op die dag van die wedloop gedoen word.
Vorige artikels
- Droom-myl Saterdag in Riversdal
- Wie gaan droom-myl beste ondersteun
- Droom-myl kruip nader
- Droom-myl op 1 April
- Riversdal se droom-myl vir ganse gemeenskap
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’